Leef daar waar jy is
Elkeen van ons is geroep om God se Woord in die wêreld uit te dra. Sommige van ons werk voltyds as predikante en pastore. Die res van ons het ander beroepe of werksomstandighede. Sommige preek deur woorde en ander deur dade. Die feit bly staan: Elkeen van ons is geroep om Jesus aan die wêreld te wys. Die wêreld het Hom só nodig.
Dit is ’n groot opdrag wat elkeen van ons opgelê is. Net jammer dat so baie nie daarvan weet nie en baie wat wel daarvan weet, vergeet om die opdrag uit te leef. Ek vermoed dit is die rede hoekom die wêreld so sonder God lewe. Omdat baie van ons tjoepstil oor die Verlosser bly. ’n Wêreld sonder God is chaos en as ek so om my kyk, sien ek meer chaos as orde.
Gelukkig het Paulus nie sy roeping misgekyk nie. Hy sê: 11God het my aangestel en gestuur om hierdie goeie nuus vir almal te gaan vertel en aan hulle te verduidelik wat dit presies vir hulle beteken.
As Paulus soos die meeste van ons was en sy roeping onder die mat gevee het, wat sou van ons geword het? Waar sou ons van Jesus gehoor het? Waar sou ons riglyne gekry het om die lewe te leef? Waar sou ons van die liefde wat God vir ons het, gelees het?
Dankie tog dat Paulus getrou was en sy roeping uitgeleef het. Deur dik en dun. Ja, deur dik en dun. 12Daarom sit ek nou ook hier in die tronk, maar moenie dink ek is skaam daaroor nie.
Ek haal my hoed vir Paulus af. Hy is so ’n goeie voorbeeld vir ons elkeen. Die omstandighede waarin hy hom bevind, is nie so rooskleurig nie. Hy sit nie lekker warm en snoesig agter ’n lessenaar met pantoffels aan nie. Nog minder het hy ’n groot skerm en sleutelbord om die briewe te skryf.
Paulus sit in die mees haglikste omstandighede. Dis nie lekker nie. Dis koud. Hy’s honger. Daar word op hom geskree. Hy word gemartel. Maar meer nog, sy lewe bly in gevaar. ’n Swaard hang die heeltyd oor sy kop. Maar stilbly sal hy nie. Sy roeping dryf hom.
Ja, daar was seker tye toe hy gewonder het of dit alles die moeite werd is. Tye toe ’n stukkie twyfel sy lê in sy hart wou kry. Maar dan het hy maar weer opgestaan en op God vertrou. God was te veel van ’n realiteit in sy lewe om moed op te gee.
Ek sit lank en wonder hoe sou ek in sulke omstandighede reageer het? Ek wonder of ek nie moed sou opgee nie? Ek wonder of ek nie sou oorgee en my geloof in God aan ’n draad gaan hang en wegstap nie?
Is jy bereid om jou werk prys te gee omdat jy nie wil stilbly oor jou God nie? Is jy bereid om sekere vriendskappe op te gee om getrou te bly aan jou roeping om God se Woord uit te dra en Sy karakter aan ander te wys? Is ek en jy bereid om in die tronk gegooi te word, verneder en verwerp, gestroop van alles wat ons het?
Die meeste van ons hoef eintlik nie die hoop vrae te antwoord nie, want swaarkry en vernedering ter wille van ons geloof is nie ’n realiteit nie. Ons lewe is nie in gevaar as ons ons roeping gaan uitleef nie.
Jy is ook soos Paulus geroep om die boodskap van verlossing met ander te deel en aan hulle te vertel watter verskil Jesus elke dag in jou lewe maak. Leef jou roeping uit net daar waar jy is en moenie toelaat dat enige iets jou stop nie.
Teks
2 Timoteus 1:8-12
Om oor na te dink
Wat is jou roeping?
Leef jy dit uit?
Ervaar ander dit?
Gebed
Here, dis ’n voorreg om van U verlossingsdade te vertel. Ek weet dit is ook my roeping. Gee asseblief aan my die vrymoedigheid soos Paulus om tydig en ontydig daaroor te praat. Amen.