Leef liefde – Romeine 13:8-10
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 13:8-10
9Al die voorskrifte in die wet – jy mag nie ’n seksuele verhouding met iemand buite jou huwelik hê nie; jy mag nie iemand anders vermoor nie; jy mag nie iets vat wat nie aan jou behoort nie; jy mag nie dinge begeer wat nie joune is nie, en al die ander voorskrifte – kan in een enkele sin saamgevat word: jy moet vir jou medemens net soveel omgee soos vir jouself. Hoe kan die vers ’n opsomming wees van die wet?
Maar gaan dink ’n bietjie hieroor na.
Kan ek vir God lief wees as ek ander afgode aanbid?
Kan ek my ma en pa liefhê as ek hulle nie respekteer nie?
Kan ek iemand liefhê as ek hom wil doodmaak (of selfs met die tong wil sleg sê)?
Kan ek iemand liefhê as ek ontrou is teenoor haar of hom?
Kan ek iemand liefhê as ek van hom of haar steel?
Kan ek iemand liefhê as ek vir hom of haar lieg en bedrieg?
Kan ek iemand liefhê as ek afgunstig is op ander se besittings?
Liefde is die opsomming van die wet. As jy in elke situasie waarin jy verkeer die ander mens net soos jouself liefhet, sal jy mos nie vir hom of haar kan benadeel nie. Uit liefde sal jy mos daardie persoon oorlaai met dinge wat hy/sy nie eers verdien nie. Jy sal teenoor daardie persoon optree soos wat jy wil hê ander moet teenoor jou optree. En dit is die wet van God! Dan voer jy die wet van God uit!
Wees lief vir daardie werknemer waarmee jy so sukkel.
Wees lief vir jou kollega wat nie wil hoor wat jy sê nie.
Wees lief vir daardie kind wat sy eie ding wil doen.
Wees lief vir die vreemdeling wat so ontydig oor jou pad gestrompel kom.
Wees lief vir jou man of vrou wat net die heeltyd hulle eie issue promote.
Wees lief vir jou baas al is hy partymaal onregverdig.
Wees lief vir almal met wie jy in aanraking kom, al verdien hulle genade net so min soos jy.
Wees lief vir almal net soos jy vir jouself lief is!
10Sulke soort liefde benadeel nooit ander mense nie. Daarom, wanneer jy ander mense van harte liefhet, gehoorsaam jy die ganse wet.
Soms voel dit vir my asof God met ons ’n speletjie speel. Pardon, dit klink seker erg, want die tyd is nie altyd ryp vir liefdesdinge doen nie.
Hoeveel keer het ek nie in my besigheidsdae vol van spanning gesit en wonder wanneer die besigheid se geld gaan inkom nie? As die debiteure klerk vergeet om een van die kliënte vir twee maande te faktureer, hoe doen mens die liefdesding?
’n Ander kliënt weier om te betaal. Ek bel hom om my misnoeë teenoor sy werksetiek uit te spel, maar hy sit die foon in my oor neer. Ek bel hom weer, want nou kan ek al ’n koppie tee skink so warm is ek! ’n Mens sit mos nie sommer die telefoon neer as die ander nog nie klaar gepraat het nie. Hoe doen jy die liefdesding?
Dit is die lewe, né. Obstruksies in die pad gaan ons kry, maar tog moet ons sorg dat liefde nooit by die deur uitglip nie. En dit is nie maklik nie. Hier het ons almal baie bystand nodig.
Om oor na te dink
Wie is daar in jou lewe aan wie jy nie liefde kan of wil gee nie?
Wat moet jy anders doen om die verhouding beter te maak?
Vra nou vir God om jou hierin te help.