God se Woord in vandag se woorde

Leef volheid. Leef vry en leef reg.


Sjoe! Kan ’n mens soveel keer by een boek in die Bybel stilstaan? Dis al die 200ste keer wat ons hier in Hebreërs woel!

Ek gaan ’n skewe vraag vra. Ek wonder wat het God laat verander van die kwaai Ou-Testamentiese God, na die liefdevolle God in die Nuwe Testament? Die Ou Testament is vol wette en het jy dit gewaag om oor die grense te beur, was die straf maklik die dood.

Daar by Sinai byvoorbeeld, was almal in angs. God het in so ’n harde stem gebulder dat mense bang geword het en selfs Moses sê later: 21… “Ek staan en ruk, so bang is ek.” Die arme diere wat toevallig op die berg gewei het, moes doodgemaak word.

Ek dink mense van daardie tyd was bang vir God.

Soveel anders as nou. Ons hoef nie meer bang te wees vir God nie. God het die appelkar kom omgooi en deur Jesus kom wys hoe baie lief Hy vir ons is. Dis juis Jesus wat die nuwe dag kom aankondig het. 24… Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het.

Of God se hart verander het, kan ek nie regtig sê nie, maar wat ek wel weet, is dat ’n heel nuwe verhouding tussen God en die mens ontstaan het. Skielik is God nie meer die oupa waarvoor al die kleinkinders moet ligloop nie. Nee, Hy is nou die stadige oupa op die rusbank, wat die een kleinkind na die ander op Sy knie tel en hul trane afvee.

Dit alles is moontlik gemaak deur Jesus wat gesterf het vir die straf van ons sondes. Die straf is betaal en kom nie meer in die prentjie as God na ons kyk nie. Ek vermoed voor Jesus se grote daad aan die kruis waar ons skuld betaal is, het die sonde van die mens God so ontstel en dis seker hoekom ons gedink het God is nors.

Ek besef ek trek skeef met my prentjie en dig God eienskappe toe wat nie eintlik by Hom hoort nie. Maar wat vir my wel kristalhelder is, is dat God oorloop van liefde vir my. Wat ’n voorreg om vry, sonder skuld en sonder vrees vir God te lewe. Die lewe is nou soveel makliker.

Tog beteken dit nie dat ons maar kan jol en doen soos ons wil nie. Alhoewel God die liefdevolle God is, bly Hy nog steeds die Redder. Hy sal bepaal wie eendag by Sy huis kom intrek en wie nie. 23Julle het gekom by die kerk van almal vir wie God ’n nuwe lewe gegee het en wie se name in die hemel opgeskryf is. Daar kry julle ook vir God wat uiteindelik as Regter sal besluit wat die lot van elke mens sal wees.

En nee, hierdie is nie om jou bang te maak nie. Nog minder wil ons weer ’n wet oor jou kop trek en jou vryheid vasmaak met rekke. Nee, ons moet ons vryheid so uitleef dat ons nie eendag skaam sal wees en koponderstebo die hekke sal deurstap en wonder wat die uitslag gaan wees nie. Leef voluit. Leef vry en leef reg.

Teks
Hebreërs 12:18-24

Om oor na te dink
Is jy bang vir God?
Leef jy swaar?
Leef jy lig?

Gebed
Vader, dankie dat U my liefhet en my by U in die hemel wil hê. U is aan my kant. Al wat U vra, is dat my hart aan U behoort. Help my om met my hele hart aan U vas te hou en vry en lig te lewe. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek