God se Woord in vandag se woorde

Lewe en doen uit geloof


Die eerste twee mans wat in die wêreld gebore is, was Kain en Abel. Op ’n dag moes die twee broers aan God ’n offer bring. Kain was ’n boer en het produkte van die land gebring om aan God te offer.

Abel was weer ’n veeboer. Hy neem toe ’n eersteling-lam en slag dié. Hy het die bloed in ’n houer afgetap en die lam op die altaar gesit. Dit was presies hoe God vir Adam en Eva opdrag gegee het, hoe ’n offer aan Hom moet lyk.

God het Abel se offer aanvaar, maar nie Kain s’n nie. Kain was so kwaad dat hy sy broer na die veld toe gelok het, waar hy hom doodgemaak het. Met die daad, stoot Kain die deur van haat oop en dis nie ’n mooi prentjie wat ’n mens sien nie.

God het die prentjie gesien, nog voor die manne by die offertafel opgedaag het. Daar was niks verkeerd met die produkte wat Kain gebring het nie – dit kom dan uit God se grond uit. Maar die hart waaruit ’n mens se dade aangevuur word, was vuil.

Abel se hart was reg. Hy het alles verstaan. Hy het die opdrag verstaan van hoe ’n mens se offer aan God moet lyk en hy het dit presies so gedoen. Vir hom was dit egter nie net ’n ritueel wat hy in die Sondagskool geleer het, wat hy tog maar moet gaan doen nie.

Abel het dit met ’n hart gedoen wat reg was. Hy het dit gedoen omdat Hy werklik lief was vir God. Tog was daar nog ’n groter dryfveer. Sy geloof in God was die basis, dit het hom aangespoor om hierdie offer in liefde aan God te bring.

Abel se offer gaan ook verder. Dit is ook verwysing na Jesus, Wie se bloed eendag moes vloei vir die finale uitwissing van die skuld wat God se kinders bymekaarmaak. Abel het rêrig meer begryp as net die reëls en regulasies wat in hulle koppe ingedruk is. Hiervan het God baie gehou.

Dit alles omdat Abel waarlik geglo het. Met sy hele wese het Hy vasgehou aan sy geloof in God. Sy manier van doen, sy hele lewe het hiervan getuig: 4Omdat Abel God vertrou het, het God meer van sy offer gehou as van sy broer Kain s’n. Juis omdat hy God vertrou het, was sy offer vir God goed en het God gesê dat sy verhouding met Hom reg is. Abel se geloof het dus tot vandag toe nog vir ons ’n boodskap, al is hy lankal dood.

Geloof in God moet ook die petrol van ons lewe wees. Ons moenie dinge doen omdat ons so geleer is nie. Ons moenie dinge doen omdat ons ouers of grootouers so gedoen het nie. Ons moenie dinge doen omdat dit die regte ding is om te doen nie.

Ons moet aangevuur word deur ons geloof in God. Dan sal ons dinge anders doen. Dan sal ons die dinge doen soos dit van ons verwag word. Dan sal ander mense om ons anders wees, omdat hulle ietsie ervaar het van die liefde van Jesus wat gesterf het aan die kruis, ook vir hulle sondes.

En dit sal so lekker wees vir God om te sien.

Teks
Hebreërs 11:1-6

Om oor na te dink
Hoe lyk jou geloof?
Lewe jy uit jou geloof?
Voel ander dit aan hul lyf?

Gebed
Vader, ek wil so graag ’n aangename geur vir U laat. Ja, ek glo met alles in U en wil graag alles wat ek doen uit geloof in U doen. Ek weet ek kry dit nog nie orals reg nie, maar ek glo. Hoe skeef ook al. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek