Lewe met die eindstreep uit die prentjie
Iemand sê vir my dat ons Christene so in die toekoms lewe dat ons nie die lewe hier en nou raaksien nie. So asof ons in die wolke leef en nie lekker sien wat hier op die aarde aan die gang is en hou ons hier moet lewe nie.
Dit is so, soms is ons so gefokus op die toekoms en die lewe hierna dat ons vergeet dat ons nog ’n rol hier op aarde het. Maar ek vermoed die teenoorgestelde is ook waar. Soms druk die lewe so dat ’n mens net op die nou fokus en heeltemal vergeet waarheen ons op pad is en wat op ons wag.
Ons moet onthou dat die dag toe ons weergebore is, let wel, wéér gebore is, was dit ’n menslike geboorte nie. Die menslike geboorte veronderstel ’n eindpunt. Daar is ’n dag en datum in die toekoms dat die lewe wat die geboorte gegee het tot ’n einde gaan kom.
Dit is wat die sonde doen. Dit neem ons na die dood. Maar wanneer ons vir ’n tweede keer gebore word, dan is God daarby betrokke en dan verander alles. Nou is daar nie meer ’n einde nie. Juis wanneer die aardse lewe ophou skop die nuwe lewe af en hier is geen einde in sig nie.
God lewe vir ewig. God het voor die skepping geleef en sal ook as alles tot ’n einde gekom het nog steeds lewe. Wanneer ons dan deur die werking van God weer gebore word, dan ontvang ons ook hierdie voordeel.
Ja, soms is ons dan so aan die swoeg in die lewe dat ons vergeet dat ons weer en nuut gebore is. Ons lewe elke dag so om alles bymekaar te maak, sonder om te besef dat eintlik is dit alles net ’n geraas, want die aardse goeters gaan een of ander tyd by die eindstreep opdaag en dan is dit verby.
23Toe julle sy boodskap gehoor het, het julle die nuwe lewe saam met God leer ken, ’n lewe wat nooit sal ophou nie. Dit is vir ewig waar.
Wanneer ons egter besef dat die tweede geboorte ons in staat stel om verby hierdie wêreldse eindstreep te leef, dan maak dit my leef in die nou, heel anders. Dan begin ander dinge vir my saak maak.
Nie soseer wat ek het en wat ek nog kan kry nie, maar meer hoe ek die lewe leef. Dan begin ander mense wat saam met my stap in fokus kom. Dan raak ander se behoeftes ook my behoeftes en maak ek saam planne om ander se uitdagings uit hulle pad te rol.
Maar meer nog. As ek my lewe vandag leef met die wete dat my tweede geboorte die eindstreep uit die prentjie kom haal het, dan raak mense waar die eindstreep nog ’n werklikheid in hulle lewe is, deel van my alledaagse prentjie.
Hoe kan ek die nuus vir myself hou? Hoe kan ek die nuus net vir myself hou en kyk hou mense se eindstreep al hoe nader kom?
Wanneer ek werklik besef wat my hergeboorte vir my bewerkstellig het en dat die werklike ware vreugdevolle en vredevolle lewe nog op pad is, borrel ek oor. Ek kry weer nuwe moed vir die lewe hier. Die son kom weer op uit die donker hier. En dit stoot my en wil en sal en moet ek dit gaan deel met almal.
Teks
1 Petrus 1:22-25
Om oor na te dink
Leef jy met of sonder ’n eindstreep?
Wat beteken jou hergeboorte vir jou?
Met wie kan jy dit vandag deel?
Gebed
Vader, dankie vir die tweede geboorte en dat die eindstreep nie meer in my prentjie is nie. Help my om dit met almal om my, vriende, familie en selfs vreemdelinge te deel. So kan ek dalk net vandag ’n lewe red. Amen.