Liefde is…
Teks
Ek sit een oggend en besluit om self vir die mense wat gebedsversoeke ingesit het, in te tree. Daar is 52. Dit raak ’n mens diep om te sien hoeveel seer en nood daar buite is. Nou verstaan ek hoekom intersessors laat weet dat hulle soms in trane uitbars terwyl hulle die mense en hulle nood voor die Here neerlê.
Uit die gebedsversoeke sien ek dat daar een ding is wat keer op keer in die slag bly en dit is verhoudings. Huwelike waar een van die partye al vir 2 jaar nie met die ander praat nie. Gesinne waar die kinders met die testament smokkel. Werknemers wat vir maande wag om betaal te word. Orals maar orals is daar mense wat ander se gesig in die grond druk en dan net aanstap.
Sjoe, dis nie lekker om te sien hoe God se kinders mors nie.
Maar voor ons die vinger te ver na ander se manier van lewe wys, moet ons eers seker maak dat ons manier van leef reg is. Bou jou manier van lewe ander op, of breek dit af? Die meeste van ons sal sê dat ons opbou, want dit is hoe ons aanmekaar gesit is. Ons wil tog nie afbreek nie.
Tog moet ons seker maak dat ons in alle omstandighede, ook wanneer ons bloed kook, ook wanneer ons onregverdig behandel word, ook wanneer dit juis die ander persoon is wat verkeerd is, dat ons optrede nog altyd opbouend sal wees. Hiervoor het ons een eenvoudige reëltjie nodig: 1Maak soos God gemaak het, want so maak kinders wat ’n liefdevolle Vader het. Elke dingetjie wat jy doen, moet van liefde straal. Dit is mos die voorbeeld wat Christus vir julle gegee het.
God is vir ons die voorbeeld van reg lewe. God word aangevuur deur een ding en dis liefde. Wanneer God na ons kyk, sit Hy die bril van liefde op en die bril werk soos ’n sonbril. ’n Sonbril laat net sommige strale deur. Die strale wat te sterk vir die oë is, word verdof. Dus is die prentjie sagter op die oë. Jesus se liefdesbril haal ons mense se sonde uit die prentjie en dan kan God nie anders as om net lief te bly vir die mense nie. Sy optredes spreek dan ook hiervan.
Ons kry dit nie altyd reg nie. Ons kyk gewoonlik deur die bril van geskiedenis of ervaring. Nog voor my vriend of eggenoot of kind hulle mond oopmaak, weet ek al klaar wat hulle gaan sê, of so dink ek. Die probleem is dat ek dan nie eens luister wat hulle sê nie en reeds my gedrag ooreenkomstig my idee in rat begin kry. Eintlik maak dit nie meer saak wat hulle doen of sê nie, my prentjie is al klaar opgemaak.
Dit spreek nie van liefde nie. Liefde gee die ander een nog ’n kans. Liefde sien foute oor. Liefde wil die beste vir die ander hê. Liefde haal die eie ek uit die prentjie en sien net die ander een raak. Liefde kry jammer. Liefde laat jou huil vir die ander se foute. Liefde wys nie vinger nie. Liefde druk eerder vas. Liefde troos. Liefde lag. Liefde gee ruimte. Liefde laat blom. Liefde red. Liefde gee. Liefde is onselfsugtig. Liefde is mooi. Liefde genereer positiewe energie. Liefde lewe. Liefde pomp liefde. Liefde is oordadig. Liefde het nie ’n stop knoppie nie. Liefde is…
Dis mooi nè!
Deur die mooiheid sien ek egter dat dit nie so eenvoudig is nie. Dit kom nie sommer vanself nie. Dit vat konsentrasie. Dit vat tong vasbyt dat die bloed loop. Soms wil ’n mens dit net nie doen nie. Tog is dit die antwoord vir die wêreld se probleme. God se antwoord vir elke gebedsversoek en Hy is juis vir ons die voorbeeld daarin: 1Maak soos God gemaak het. Elke dingetjie wat jy doen, moet van liefde straal.
Om oor na te dink
Liefde is…?
Liefde is…?
Liefde is…?
Gebed
Here, leer my van liefde. Leer my om deur U bril van die liefde na die mense om my te kyk. Leer my om self terug te staan en net lief te hê. Amen