Liefde is …
Soms kom ’n mens op ’n plek waar dit nie lekker met jou gaan nie. ’n Plek waar jy sukkel om die sin te sien. Vrae pop op soos: Hoekom is ek nou eintlik op die aarde? Wat is my doel? Het ek ’n roeping?
En voor jy jou kom kry, maak die dinge nie sin nie.
Ek was ook al daar. Waar jy eenvoudig nie goed voel oor jouself nie. Jy wonder of jy eintlik iets reg doen of kan doen. Jy wil eintlik net in jou bed lê. En dan dwaal jy al hoe vêrder weg en begin minderwaardig voel en begin twyfel in jouself. Selfs in my eie geloof het ek begin twyfel en vir myself laat verstaan dat ek dit ook nie hier maak nie – ek hoor dan nie die Here nie.
Ewe skielik het alles te veel geword en my energie het in die hek geduik. Snaakse oplossings het by die deur opgedaag.
Ek praat met ’n vriend en hy help my om die lig aan te skakel: Jy’s besig om uit te brand. Ja, jy is die een wat altyd vir ander help. Jy sit altyd met die antwoorde reg. Jy sit met die sleutels in die hand om enige tyd te ry as iemand om hulp roep.
Dit slaan my soos ’n bak yswater. Ek het te vinnig gehardloop en my hele wese het nou teen ’n stopbordjie vasgejaag.
Ons het ’n direksievergadering dieselfde aand. Toe hulle wegstap, kon ek een woord daaroor skryf: Liefde. Ek het lanklaas in my lewe soveel liefde ervaar. Liefde wat help. Liefde wat ondersteun. Liefde wat raad gee. Liefde wat saam planne maak. Liefde wat ophelp. Liefde wat afsprake maak. Liefde wat vrae vra en help met antwoorde. Liefde wat gee. Liefde wat omgee.
My gesin het ook hul krane van liefde voluit oopgedraai. Om elke hoekie en draaitjie het hulle my kom verras met ’n pakkie liefde. ’n Woord hier en ’n drukkie daar. Dit was voorwaar liefde in aksie.
As ek terugkyk, weet ek dat ek verskriklik broos was. Dis nie lekker om te erken dat jy wat voor stap en aan die hoof staan van ’n groot organisasie se wese so bietjie uitmekaargeskiet is nie. Maar dit is nodig.
Ek het geleer dat ’n mens moet eerlik wees. Ek het geleer jy moet oopmaak. Ek het geleer dat al is dit nie maklik nie, dit soms nodig is om te sê hoe jy voel. Soos my tjommie altyd sê: Dis OK om nie OK te wees nie. Ons almal gaan deur seisoene en seisoene het ook eindes met nuwes wat weer op die horison lê.
Maar wat ek die meeste uit dit alles geleer het, is wat liefde in aksie werklik beteken. Sonder om te vra, loop dit. Sommer net so. ’n Woordjie hier, ’n drukkie daar. ’n Plan wat die plannemaker sommer net so gee. Die omgee en die optel van ’n rekening. Die WhatsApp op die snaaksste tye en die oproep wat nie hallo sê nie, maar net vra of jy oraait is en wat kan ek doen?
Wanneer liefde deel is van die fondasie, is daar nie keer nie. Aan my lyf het die teksvers lewe gekry: 22 … streef na opregtheid, geloof, liefde en vrede. Dis presies wat die mense om my reggekry het.
Kom ons leef dit uit, want dan raak ons bakke al hoe meer bruikbaar vir God …
Teks
2 Tim 2:20-26
Om oor na te dink
Hoe lyk jou liefde?
Waar kan jy dit gaan uitleef?
Hoe vorder die skoonmaak van jou bak?
Gebed
Vader, dankie vir mense rondom ons wat vir ons lief is. Dankie dat U vir ons gewys het hoe ware liefde lyk. Laat ek vir die mense rondom my van U liefde aangee. Help my om oral liefde uit te deel en so ’n verskil in ander se lewe maak. Amen.