Liefde is… te groot om te verstaan
Weet jy hoe groot God se liefde vir ons is? Weet jy dat God se liefde vir ons so groot is dat ons dit eintlik nie ten volle kan verstaan nie? Ons kop kan nie rondom al die liefde wat daar uit God vir ons vloei, kom nie. God se liefde sal enige iets doen net om seker te maak dat ons nie teen Hom kies nie. God sal letterlik enige iets doen. Hy sal so ver gaan om selfs sy eie Seun, wat op ’n manier Hyself is aan ’n kruis laat hang. Ja, God sterf saam met sy Seun, aangevuur deur sy liefde vir ons.
18Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is.
Die ou vertaling sê dit soos volg: 18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Jesus se liefde is hoër as die hoogste piek van Mount Everest (8,848km). Dit is dieper as die 10,91km van die diepte van die see. Jesus se liefde is langer as die omtrek van 40075 km van die aarde.
En selfs hierdie poging van my om te wys hoe lief God ons het, skiet nog te kort. God se liefde vir ons is eenvoudig net te groot vir my om te verstaan. Maar tog moet ek probeer om ’n stukkie daarvan deel te maak in my lewe, want sien, as ek ’n stukkie verstaan van die liefde wat God vir my het en dit wat Hy alles net vir my sal doen, gebeur daar iets in myself. Wanneer Jesus se liefde in my losgelaat word, wanneer ek ’n stukkie daarvan raaksien en toelaat dat dit in my lewe losgelaat word, word ek anders.
En dit is wat Paulus hier vir ons bid – dat ons net ’n stukkie van sy liefde sal verstaan en ervaar, want dan sal die wêreld soveel anders lyk. Wanneer Jesus se liefde in ons lewe borrel, kan ek nie seermaak nie. Ek kan nie eens op ander se tone trap nie. Ek kan ook nie pyn aan ander veroorsaak nie. Nee, dis net blomme en rose en so aan. En hoe het ons wêreld dit nie nodig nie! Daar is soveel seer en swaar daar buite. Rondom ons bloei mense. Hulle smag na liefde. Hulle smag na ’n stukkie uitkoms. Hulle smag om oorspoel te word met die liefde van Jesus.
Tannie El het in haar lewe so iets van die liefde geleer:
Ek het my man na ’n huwelik van 39 jaar aan die dood afgestaan. Hy was 40 dae in intensiewe sorg in die hospitaal. Nooit kon ek huil nie, want ek ken die Here.
Al die tyd, toe my man in die hospitaal was, het ek hom van my liefde verseker, en elke keer as ek na besoektyd huistoe of werktoe moes gaan, het hy my hand gehou en wou nie hê ek moes gaan nie. Elke keer het ek hom verseker dat hy nie alleen in die hospitaal agterbly nie, maar dat ek hom in Jesus se hande los en niks sal gebeur voor ek weer terugkom nie. En dat ek by hom sal bly solank hy my sou benodig. Wat ek ook toe gedoen het, tot die einde.
’n Gedagte het by my opgekom: “Liefde oorwin die pyn van die dood, God se liefde oorwin die dood.” Die hoogtepunt van ons aardse lewe is wanneer ons die liefde ontdek wat die vrees vir die dood laat wyk.
Liefde is die een groot ding wat ons aan onsterflikheid laat glo. God is onsterflik en God is liefde, daarom is die liefde onsterflik.
Nou verstaan ek hoekom ek nie kon huil nie, want ek het hom so liefgehad dat ek bereid was om hom aan God af te staan.
Tannie El verstaan so ’n bietjie van die liefde. Mag ons ook.
Daarom bid ek saam met Paulus vir jou: 18Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is.
Teks:
Om oor na te dink
Verstaan jy ’n stukkie van Jesus se liefde?
Leef jy dit aan almal om jou uit?
Selfs die wat die naaste is?
Gebed
Vader, hoe groot is U nie? Hoe groot is u liefde nie vir my nie? Laat ek net ’n stukkie daarvan ervaar! Amen