God se Woord in vandag se woorde

Liefde vir altyd


1 Korintiërs 13:6-7

6Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het. 7Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie.

Ek wil soos Paulus aan die begin van dié hoofstuk oor die liefde praat en wys waar vers 6 en 7 nie grondgevat het nie:

“Ek was getroud met ’n man vir baie jare. Dit was jare van hel. Hy het my kinders geslaan, geskop, probeer verkrag, verwurg. Ek was al ’n paar keer in die hospitaal oor hoe hy my aangerand het.

Hy het die diere mishandel, hulle met pype geslaan, hy het hulle verwurg. Hy is ’n monster.

Hy was hierdie “Christen”. Hy het vir almal gepreek en met die Bybel onder sy arm geloop. Sondae as ons kerk toe gegaan het was hy altyd in die voorste ry, hande in die lug en die Here geprys, uitgeskree: “Love you Jesus!” Almal moes hom hoor, maar ons het nog nie eers by die kerk weggery nie dan het die eerste vuis my getref.

Nou, na 5 jaar as ek in die spieël kyk, sien ek nog steeds die letsels op my gesig.”

’n Mens sal nooit kan goedpraat dat ’n man so mors nie. Die liefde is nêrens sigbaar nie, daarom ontbreek vreugde. Hier is geen teken van beskerming nie. Hoe kan ’n mens in so iemand glo en die beste van hom verwag? En die ergste van als is dat hulle Sondae saam met ons in die kerk sit.

Dit is dalk ’n ekstreme voorbeeld van ’n ekstreme mens. Tog moet ons onsself vra of ons nie ook soms in die strik trap nie. Jy sien, liefde en kant kies vir dinge wat nie reg is nie, klim nie in dieselfde bed nie. Wanneer ons dinge doen wat verkeerd is, en ons doen dit tog so gereeld, klim liefde uit die bus. Dan word liefdelose gedrag gewaarborg. Wanneer ons egter dinge binne die wil van God doen, is liefde in spel en is almal bly.

Met alles in ons moet ons altyd op ander mense ingestel wees. Ons moet seker maak dat ons nie so praat of optree dat ander bang of onveilig voel nie, want daar sal jy nooit ’n stukkie liefde vind nie.

Liefde soek altyd na die stukkie goed in ander. Liefde soek saam met hoop vir die potensiaal in ander. Saam met hoop, glo liefde dat daar in elke mens ’n stukkie goed sit, al het hulle alweer drooggemaak. Liefde bou brûe waar daar nog net afgronde tussen mense was. Liefde breek grense af en probeer net nog een keer.

Liefde hou nooit op nie. Dit hou aan en aan en aan. Dit gee nog ’n kans na die tweede kans. Liefde oorrompel mense.

Mag God ons help om nooit te mors met die liefde nie. Mag die liefde orals met ons saamloop en mag die liefdessaadjies wat ons orals saai, groot vreugde blomme voortbring. Mag die stukkie wêreld waar ek woon besaai word met liefdesblomme. Mag dit anders lyk, omdat God se liefde deur my hande en voete gevloei het. Vir altyd.

Om oor na te dink

Ervaar die mense rondom jou liefde?

Waar maak jy dit nie?

Hou jou liefde vir altyd of het dit perke?

Gebed

Here, soms kan die mens darem mors. Ons mors met die tong en ons mors met ons hande en voete. Die liefde kan ons keer om te mors. Deurdrenk ons met liefde, sodat ons ’n ware impak in U Koninkryk kan maak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek