God se Woord in vandag se woorde

Liefde wat trek of stoot?


Die meeste Jode in Israel word grootgemaak met die Wet van God as hulle basis. Van kleins af memoriseer die kinders die Tora. Helder oordag staan Jode op die straathoeke en sê die Tora uit hulle koppe op.

Hulle is so toegewyd in hul godsdiens en sit soveel energie daarin. Hulle offer so baie op en maak seker dat hulle nie een van die reëls oortree nie. Dis egter baie hartseer dat baie van hulle nie glo dat Jesus hulle Verlosser is nie.

Maar hoe wonderlik is dit as een van hulle vir Jesus aanvaar as hul Verlosser. Wanneer hulle dit snap, val die skille van hul oë af. Ewe skielik maak die Ou Testament en die voorspellings van Jesus se koms heeltemal sin.

Dan raak hulle die leermeester en neem die mense wat hulle tot geloof gelei het, tot selfs ’n dieper verstaan. Omdat hulle groot gedeeltes van die Ou Testament gememoriseer het, val die legkaartstukke nou inmekaar en verstaan hulle dit selfs beter as ons Christenvriende.

Hierdie Jode word die Messiaanse Jode genoem. Daar is al heelwat Messiaanse Jode en natuurlik maak hulle hul kinders ook groot in die geloof dat Jesus hulle lang verwagte Verlosser is.

Ongelukkig raak al hoe meer van die kinders die pad duister en verloor hul geloof in Christus. Hulle word die Prodigals genoem. Die verlore seuns en dogters wat besluit het om eerder hul eie pad te loop.

’n Vriendin van ons was baie aangeraak hierdeur en wou weet wat die oorsaak hiervan was. Sy het afsprake gemaak met die ouers van hierdie kinders, maar hulle wou nie praat nie. Jy sien, die ouers was leiers in die kerke en selfs predikante en pastore.

Hulle was skaam omdat hul kinders afgedwaal het. Dit was die bes bewaarde geheim onder die Messiaanse Jode. Maar die kinders het gepraat en soos ’n goue draad is dit verweef in elke gesprek: “Die ouers vertel hulle van Jesus en van liefde, maar dit is glad nie sigbaar in hulle doen en late nie.” Daar is baie verskille tussen die Christen geloofsgemeenskappe. Sommige praat nie eers met mekaar nie.

Dis bitter tragies. ’n Hele nuwe generasie wat juis die Christelike geloof moes voortleef, draai hulle rug om een rede: liefde wat ontbreek.

Onthou, hier is die opdrag: 22… God verwag dat julle in liefde lojaal teenoor mekaar sal wees, reg om mekaar te help en te dien wanneer dit ook al nodig mag wees. Die 1983- vertaling stel dit met meer passie: Julle moet mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.

Dis tog ook Jesus se opdrag – ons moet ons naaste liefhê soos onsself. Opreg, sonder enige bybedoelings. Mense kom gou agter as daar fout is met die pyp. Mense weet as dit plastiek is. Kinders veral lees ons baie goed. Beter as wat ons dink.

Ons moet ten alle koste almal, vriend en vyand, liefhê. Ons moet hulle uit ons harte liefhê. Ons moet hulle vurig liefhê en ons dade moet dit wys, sodat dit juis die mense om ons saambind en nader aan Jesus trek. Mag dit waar wees vir ons elkeen vandag, môre en die res van ons lewe.

Teks
1 Petrus 1:22-25

Om oor na te dink
Waar het jou liefdeloosheid al mense weggestoot?
Waar het jou liefde al mense na God toe getrek?
Hoe kan jy dit altyd doen?

Gebed
Vader, vergewe my dat ek soms liefdeloos is en mense wegstoot, ook van U. Mag ek planne maak om U liefde in en om my te laat grondvat. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek