God se Woord in vandag se woorde

Liefdestenke wat oorloop


Paulus sê in Titus 2:4 Hulle moet vir hierdie vroue sê dat hulle baie lief vir hulle mans en kinders moet wees.  In Efesiërs 5:25 praat hy weer met die manne: 25Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na.

Dis die eerste vertrekpunt van die huwelik. Saam met God, is liefde die fondasie van die huwelik. Die liefde is die gom wat die man en vrou aan mekaar vasbind, al verskil hulle so baie. Al raak hulle vir mekaar erg die josie in, is dit liefde wat hulle weer by mekaar terugbring. Liefde is die opmaaksous. Liefde is die pleister en soms, as dit nodig is, die verband.

As daar nie liefde is nie, is daar nie hoop nie. As daar nie liefde is nie, is daar nie ’n trekpleister terug na mekaar toe nie. As daar nie liefde is nie, is dit een groot gesukkel wat ’n mens se moed in jou skoene laat sak.

Liefde is nie ’n keuse nie. Dis ’n moet. Dis ’n opdrag. Iets waaraan ons almal moet werk, hard moet werk. Jy sien, deesdae is liefde soms soos airtime wat net opraak. Die liefdestenk tussen ’n man en vrou loop leeg. In die verlede was daar nie ’n ander uitweg nie, hulle moes maar net sorg dat die tenk weer vol kom. Vandag is dit maklik. Kom ons gooi daai tenk op die ashoop en kry ’n volgende maatjie, om net weer om die volgende draai te sien dat die liefdestenk se lekgat groter is.

God het die man en vrou op ’n spesiale manier aan mekaar vasgemaak en dit kry Hy reg met liefde. Dit is binne hierdie unieke en spesiale verhouding waar albei partye meer word en hulle volle potensiaal bereik. Man en vrou vuur mekaar aan. Man en vrou lag en speel en huil saam. Man en vrou dien mekaar saam. Dit alles omdat daar liefde is.

Maar meer nog. God het dit goedgedink om die huwelik daar te stel vir kinders om die wêreld in te kom. Dit is die veilige hawe waarheen kinders en eggenote elke keer kan terugkom om hulself te wees, beskerm te word en ja, liefgehê te word.

En tog, op ’n manier, druk die wêreld en die bose ou sy vuil vingers hier in en probeer sy bes om die liefdestenk leeg te kry. En die ergste van alles is dat hy dit in meer as die helfte van huwelike vandag regkry. Hier is ‘n moewiese aanval en word die huwelik erg geteiken.

Daarom moet ons al ons energie insit om seker te maak dat die liefdeskanaal wat ons tenke volmaak, wal aan wal loop. Dit moet eintlik sommerso mors, want die mense met wie ons in die wêreld skouers skuur, het ook ’n paar van ons druppels nodig.

Kom ons maak moeite met die opdrag. Kom ons wees die minste en steek ons trots in ons sakke. Kom ons wees kreatief en soek orals plekkies om ons eggenoot en maat met liefde te verras. Kom ons pomp nog en nog liefde in mekaar se tenke, want so sal ons verhoudings anders word en so sal die wêreld Jesus se liefde aan hulle lyf voel.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Hoe dik loop jou liefde?
Kan jou tenk nog voller wees?
Hoe kan jy meer liefde leef?

Gebed
Vader, dankie dat ons by U van liefde kan leer. Ware liefde! Liefde wat gee, gee en gee, sonder om terug te verwag. Help my om ook so te gee. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek