God se Woord in vandag se woorde

Lig in die donker se gespartel


Daar bestaan twee ryke waar twee konings heers. In die een koninkryk heers God en in die ander die duiwel. Ons weet dat die duiwel reeds aan die kruis oorwin is en nou sy bes probeer om met sy laaste stuiptrekkings mense op verskillende maniere ’n rat voor die oë te draai om nie in God te glo nie.

’n Kruispadleser stuur vir my ’n link aan waar dr. Piet Croukamp ’n debat voer met dr. Richard Howe, ’n teoloog van UJ, oor die onderwerp: Bestaan God? Dit was ’n baie ontstellende klankgreep. Piet is kwaad, ’n mens hoor dit sommer in die bombastiese manier waarop hy praat en in sy woordkeuses. Hy skroom nie om met die een vloekwoord na die ander sy misnoeë uit te spreek in mense wat in God glo nie. In sy studentekamer was ’n plakkaat wat gesê het God is dood.

Om in God te glo, het ’n mens geloof nodig. Iets wat baie keer deur intellek oordonder word met die gevolg dat sulke mense eenvoudig nie vir die koninkryk van die lig kan kies nie. Dis so jammer!

Ons wat egter in God glo, is deel van sy koninkryk en op ons wag daar ’n wonderlike tyd in die hemel: 12… Daar waar God se wonderlike lig sonder ophou skyn, sal julle saam met al sy ander kinders bly.

God se koninkryk word altyd gekoppel aan lig. Die lig in die Bybel is die embleem van heiligheid, kennis, suiwerheid, troos en ware geluk. Jesus is gestuur na die wêreld om die Lig te wees. Ja, Jesus het die donkerte kom verdryf. Daar waar die mens met geen hoop in die modder en donkerte rondgespartel het, het Jesus die lig kom aanskakel sodat die mens kon sien.

Die mens kon die modder raaksien. Hy kon sien dat hy op die verkeerde pad was. Hy kon sien dat hy aan die einde van sy lewe steeds op pad was na die ewige donker – daar waar daar geen heiligheid, kennis, suiwerheid, troos of ware geluk was nie.

Dit is so jammer om te weet dat daar nog baie mense is wat verkies om aan die koninkryk van die donker te behoort. Sommige openlik, soos dr. Piet.

Ons behoort aan die koninkryk van die lig. Ons moet vir ander wys hoekom dit soveel beter is om deel te wees van die lig. Baie van hulle hoor nie woorde nie, maar slegs die woorde wat deur mense se dade aan hulle oorgedra word.

Daarom is dit so belangrik dat ons sal seker maak dat al ons dade Jesus se lig reflekteer. Ons moet seker maak dat ons spieëls silwerskoon is sodat daar geen afbreuk gedoen word aan God se wonderlike lig nie. Maar meer nog, ons moet seker maak dat ons eie dade in die lig is. Onder die tafel skyn daar nie lig nie. Wanneer jy dus ’n deal onder die tafel doen, kan dit nie God se lig weerkaats nie. Inteendeel!

As jy twyfel of ’n daad in die lig of in die donker is, luister na die stem in jou binnekant. Die Heilige Gees sal nie stilbly as jy Hom vra nie

Ons is almal op pad na die plek waar God se lig nie ophou skyn nie. Kom ons leef reeds so ’n lewe hier. Dalk is jy die een wat dr. Piet, en die ander wat nie kan of wil glo nie, oortuig dat ’n lewe in die lig beter is as een in die donker.

Teks

Kolossense 1:12-14

Om oor na te dink

Watter dade van jou reflekteer God se lig?

Waar is jou spieël vuil?

Sien jy uit na die lewe hierna?

Gebed

Vader, hoe groot is my verantwoordelikheid nie om U lig in die donker wêreld uit te reflekteer nie! Die wêreld het dit so nodig al besef hulle dit nie aldag nie. Help my om seker te maak dat al my dade in die lig is en van die lig vertel. Amen.

Print Friendly, PDF & Email

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek