God se Woord in vandag se woorde

Lig op die vuil kolle


Ystererts word teen ’n baie hoë hitte gesmelt. In die proses kom al die vuilgoed na bo en dan kan dit maklik verwyder word. Wanneer die produk weer afgekoel word, is dit skoon staal. Terwyl dit nog net ystererts is, is daar baie vuilgoed in, maar jy kan dit nie sien nie. Eers wanneer dit verhit word, word dit sigbaar en dán eers kan die ouens ’n plan maak om dit af te skep.

In elkeen van ons is daar ook vuilgoed, maar ons sien dit nie altyd raak nie. Ons weet dikwels nie eers daarvan nie, want dit is so verweef in die res van ons. Maar hoe nader ’n mens aan Jesus beweeg, hoe sigbaarder raak die vuil kolle. Dit is Jesus se lig wat die sonde uitwys en ons raak bewus van verkeerde dade in ons lewe. CS Lewis het gesê: “It is when we notice the dirt that God is most present in us; it is the very sign of His presence.” Paulus het dit ook so ervaar: 17In ons pogings om aan Christus se vryspraak deelagtig te word, het ons ontdek dat ons sondaars is wat onsself glad nie kan red nie.

Jy sien, ’n mens kan nie naby Jesus wees en nie jou sonde raaksien nie. Daar is so ’n klein stemmetjie wat met jou praat wanneer jy in die verkeerde rigting foeter. Jy weet dis verkeerd, maar jy het nog nie die brieke om te stop nie. Dit is vir hierdie sonde wat Jesus aan die kruis gesterf het. Wanneer ons dan nader aan Jesus beweeg en die sonde in ons lewens begin raaksien, moet ons dit na Jesus bring. Ons moet dit na die kruis toe neem, want dit is net daar waar ons dit op Jesus kan pak.

Paulus wonder hardop wat al die sonde van ons aan Jesus doen: 17…Beteken dit dan dat Christus nou nog ’n slaaf van die sonde is omdat Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het? Nee, natuurlik nie! Hy het mos kant en klaar die prys vir die sonde namens ons betaal. Dit is wonderlike nuus. Jesus het klaar oorwin en die sonde ’n bloedneus gegee. Maak nie saak hoeveel sonde ons na die kruis toe bring nie, dit maak aan Jesus niks. Hy het klaar daarvoor betaal.

Hierdie is die middelpunt van ons geloof. Jesus het gesterf vir ons sondes. Hy het oorwin en daarom is die straf vir die verkeerde dinge wat ons doen reeds gedra. Ons kan nou in vryheid leef. Ons hoef nie bang te wees oor waar ons eendag gaan opdaag as ons die tydelike met die ewige verruil nie. Nee, ons kan seker wees dat ons die hemel sal in. Ons moet dit met ons harte glo en ook so leef.

 20Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer.

Hierdie teks moet die middelpunt van ons bestaan word. Alles, maar alles van ons moet om Jesus draai. Ons moet elke moment van die dag probeer om nader aan sy lig te beweeg. Ons moet kyk waar die lig op die donker kolle daar diep in ons wese skyn. Dan moet ons ontslae raak daarvan. Jesus wil ons so skoon as moontlik maak.

En soms, as die wêreld om ons dit vir ons moeilik maak en dit ongemaklik warm word, sal Jesus dit gebruik om die pot dalk aan die kook te sit sodat daai onsuiwerhede wat so diep wegkruip na bo kan kom sodat dit afgeskep kan word. Dan raak die lewe ligter en daal ’n hoop vreugde en vrede oor ons.

Kom ons leef van vandag af presies so: 20Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer.

Laat ander dit raaksien en ook smag om so te lewe.

Teks

Galasiërs 2:15-21

Om oor na te dink

Hoe naby is Jesus se lig aan jou?

Sien jy die vuil kolle?

Wat gaan jy maak om van hulle ontslae te raak?

Gebed

Here, dankie dat U die lig in my lewe is. Skyn U lig in my lewe sodat ek ook die lig in ander se lewe kan wees. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek