Ligte aan
Die meeste mense wat God nie ken nie, het nie altyd sulke mooi eienskappe nie. Die liefde ontbreek by hulle fondamente en hulle dade word dikwels deur liefdeloosheid gekenmerk. Inteendeel – daar is selfs sommige van hulle wat die wat liefde het haat en hulle mes vir hulle in het.
Christene word deur ander onder ’n vergrootglas geplaas en sodra hulle net ietsie verkeerd doen, sing die klomp se monde. Kyk net hoe stry die kerke onder mekaar. Die een sê so en die ander weer anders en almal kry lekker omdat die kerke in mekaar se hare is.
Ons moet besef dat ons dalk een van die min roetes is waarmee die ongelowiges ooit by God kan uitkom. Wanneer ons dan so kla en stry, sny ons maklik die roete af. Daarom dat Paulus reguit met die nuwe Christene (en met ons) praat: 14Doen alles sonder om te kla of te stry. 15Dan sal niemand julle kan beskuldig van agterbaksheid of verkeerde motiewe nie. Niemand sal oor julle as kinders van God kan kla nie – al bly julle tussen mense wat korrup en sonder gewete is.
Sodra ons onder mekaar stry en baklei, neem ons die voorreg om onder ander te werk onmiddellik weg. Ons het so ’n groot verantwoordelikheid om seker te maak dat die manier wat ons met mekaar praat, hoe ons vir mekaar ruimte gee en vrede uitleef ander aantrek, eerder as wegstoot.
Ek sê weer, ons is dalk een van die min roetes waarmee die mense om ons by Jesus kan uitkom: 16Juis tussen hulle moet julle soos helder ligte in ’n donker wêreld skyn. Vir hierdie mense in die geestelike donker moet julle van Christus vertel sodat hulle ook die ware lewe kan kry.
Ai, jai jai. Dit lyk nie goed daar buite in die wêreld nie. Vir baie is dit stikdonker. Dit is nag sonder enige ligte op hulle paaie. Hulle soek vrede op verkeerde plekke. Hulle loop in mekaar vas. Hulle val en vertrap mekaar net omdat hulle nie kan sien nie. Net omdat hulle nie die Lig het nie.
Al lyk dit nie so nie, smag hulle na die Lig (elkeen word gebore met ’n soeke en versugting na God). Hulle soek antwoorde op hulle onbeantwoorde vrae. En al staan hulle met klippe in die hande om ons te gooi, al probeer hulle ons uitvang wanneer ons self ’n paar trappe mis, is hulle eintlik op soek na lig. Hulle is moeg vir die wêreld wat hulle die heeltyd in die donker laat ploeg. Hulle soek ’n plekkie van rus.
Ek en jy word geroep om God se lig te laat skyn, net daar waar ons is. God se kinders wonder dikwels wat hulle roeping is. Ons wil dikwels na ’n plek gaan waar ons God se wil kan doen, maar weet jy dat God jou geplaas het waar jy nou is? Ja, daar is sommige mense wat geroep word om op ver plekke Sy lig te laat skyn, maar vir jou het God vir eers daar geplaas waar jy nou is.
Dis ’n groot verantwoordelikheid. Dalk is jy die enigste en laaste persoon wat ’n kans het om jou vriend, familielid, kollega, werknemers of selfs ’n vreemdeling die Ewige Lig te bring. Kom ons steek ons skaamte in ons sak. Kom ons kry krag by ons Verlosser en gaan skakel die ligte in die donker wêreld aan. Soveel sal gered word en die wêreld sal anders lyk.
Om oor na te dink
Kla en stry jy nog?
Skyn jou lig?
Vir wie moet jy die Lig bring?
Gebed
Onse Vader, dankie dat die lig vir my opgekom het. Dankie dat ek nie meer in die donker rondval nie. Tog weet ek dat ek uit dankbaarheid U lig vir ander moet skyn. Ek erken dat ek skaam is en soms bang. Ek erken dat ek eerder wegkruip as om self U lig te skyn. Help my, Here, om nie bang te wees of weg te kruip nie. Gee my ’n hart vir die mense in die donker. Amen