Loop voor
Ons is saam met vriende in die Richtersveld. Die natuurskoon is verruklik mooi. Die berge en die rotse is grof en groot en ’n mens kan nie ophou om daarna te kyk nie. Die paaie is ook amper onbegaanbaar vir ’n gewone motor. Ons kruie teen ’n slakkepas oor die klippe en dongas.
Een van die voertuie het ’n kleiner waentjie en hy laat weet oor die radio dat hy verby wil gaan om solank vir ons groep ’n lekker staanplek te gaan soek. Toe ons na ’n tydjie daar aankom, is ons staanplek gereed. So ’n meter of twee van die rivier af. Vir ses dae het ons ons vergaap aan die mooie natuur, het ons lekker in die water gespeel en gerus.
Die vriend van ons was ons groep se voorloper en het ons plekkie solank vir ons gereed gekry.
Net so was Jesus ook ons voorloper. Die Een wat voor ons hemel toe is om ons elkeen se plekkie daar te gaan voorberei: 20Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan, (1983-vertaling). Die Griekse woord prodromos wat ons met voorloper vertaal, verskyn net hier in die hele Nuwe Testament.
Onthou jy toe Jesus aan die kruis gesterf het, het die voorhangsel in die tempel geskeur. Die gordyn wat die gedeelte afgeskort het waar die Allerheiligste was en waar die hoëpriester net een keer ’n jaar ingekom het.
Noudat die gordyn geskeur is, was die afskorting nie meer daar tussen God en die mens nie. Die gewone mense kon ook nou by God uitkom. Jesus het die grense wat daar tussen mens en God was, kom afbreek.
En Hy was eerste daar. Hy het eintlik die gordyn self geskeur, sodat ek en jy nou self met God kan praat. So was Hy die voorloper en die eerste een wat die pad vir ons voorberei het. Presies soos wat ons vriend gedoen het om vooruit te ry en vir ons ’n kampplek gereed te kry.
Ons plek in die hemel staan gereed. Ons hoef nie bang te wees dat ons die trein sal mis nie. En dit het niks met ons te doen nie. Dit het niks te doen hoe goed ek is nie. As dit daarvan afgehang het, sou nie een van ons dit gemaak het nie.
Die feit dat ons plek in die hemel gereed staan, is net te danke aan ons voorganger, Jesus. Kom ons wys ons dankbaarheid vir Hom terwyl ons nog hier op die aarde is. Kom ons gaan maak ’n verskil in ander se lewens. Kom ons stap voor en berei plekkies vir ander voor waar dit beter is. Waar dit lekkerder is en waar ons ander se wêrelde ligter maak en hulle ook die verlossing van Jesus kan sien en aanvaar en deel maak van hulle lewens.
Laat ons orals waar ons gaan, doen soos ons ouer Broer en vir ander die voorlopers wees en die lewe vir hulle ligter maak.
Teks
Hebreërs 6:13-20
Om oor na te dink
Wie stap voor?
Agter wie stap jy aan?
Wat beteken Jesus vir jou?
Gebed
Jesus, dankie dat U voor stap. Dankie, dat U bereid was om vir ons sondes se straf te kom sterf aan die kruis. Ek kan nie anders as om agter U aan te stap nie. Help my om dit elke oomblik van die dag te doen. Amen.