Los die verkeerde leefstyl en begeertes
Ons het nie gearriveer die dag toe ons vir Christus ontmoet het en Hom as ons Verlosser aanvaar het nie. Dit was nie die eindpunt nie, maar eintlik die beginpunt. Die begin van ’n nuwe lewe waar ons stukkie vir stukkie die doen en late van die ou mens afkap en ’n nuwe manier van lewe aanleer.
12Nou wys Hy vir ons hoe om ’n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan.
Jy sien, die dag toe ons die Here in ons lewens ingenooi het, het al die verkeerde dinge wat ons gedoen het nie sommer net by die agterdeur uitgemarsjeer nie. Die verkeerde goeters in ons lewe is so deel van ons, dat ons nie eens lekker weet dat dit nie by ons pas nie.
En ons kan vir seker nie so aangaan nie. Ons kan nie op die ou paadjie bly stap nie. Toe ons Jesus ingenooi het, het ons nuwe planne vir ons lewenshuis ontvang. Stukkie vir stukkie word die nuwe planne vir ons gewys.
Daardie ongemak wat ons ervaar as ons nog die ou dinge doen. Daardie stemmetjie wat ons hoor as ons dinge doen wat nie by die nuwe planne inpas nie. Dit is alles maniere wat ons help om die verkeerde dinge in ons lewe raak te sien.
Daardie dinge moet ons systap. Stukkie vir stukkie moet ons hulle afbreek en uit ons lewe verwyder, want dit pas eenvoudig net nie meer by ons nie. Alles wat goddeloos is, moet met wortel en tak uitgeroei word: oneerlikheid, ongeregtigheid, afgodsdiens, bygeloof en ongeloof. Die begeerlikhede van die vlees wat ’n mens in die modderstate van die lewe wil inlok. Pornografie, drankmisbruik, vuil taal, diefstal en so kan jy ook jou verkeerde dade hier byvoeg.
Intensioneel moet ons planne maak om die goeters wat ons doen waar God nie naby wil kom nie, uit ons lewe te roei. En dis ernstig. Ons het so gewoond geraak aan ’n leefstyl wat nie heeltemal God se styl is nie, dat ons dit nie eintlik meer as verkeerd sien nie.
En dit is skokkend om te sien hoe vinnig ‘n mens gewoond kan raak aan ’n nuwe lewenstyl. Ons toer vir 16 dae saam met vriende. Ons kamp omtrent elke aand, maar moenie dink dat ons met die kos afskeep nie. Dit is filet en rump. Skaaptjops en wors. Bredies en potbrood. En as ’n mens mos so op ‘n kampstoel sit, word oefening elke dag uitgestel na môre toe.
Dit was heel aangenaam.
Maar toe ons terug by die huis kom, moes ek weer die fiets in die spinklas gaan ontmoet. Ek het amper gedood! Selfs die fiksie-instrukteur het kliphard na die tyd gesê: “Fiets nommer 22, vakansie doen jou nie goed nie!”
Ek het soos ’n hoender gevoel, maar sy was reg. Die kampleefstyl het so maklik deel geword, maar in die proses my spoed gebreek om na my lyf te kyk.
So maklik raak verkeerde dinge/sonde deel van ons leefstyl, want dis mos die lekker dinge. Maar dit foeter alles op. Daarom moet ons seker maak dat sonde en die ou natuur nie sy intrek neem nie. Kyk ’n bietjie om jou rond. Snuffel die verkeerde dinge uit en roei dit met wortel en tak uit.
Teks
Tit 2:11-14
Om oor na te dink
Watter Godlose dinge is daar in jou lewe?
Waar is jou lewenswyse van die pad af?
Wat is jou regruk-aksieplan?
Gebed
Heilige Gees, wys my asseblief die dinge waarvoor ek blind is, wat nie by U plan vir my inpas nie. Help my asseblief om my lewenswyse te verander en die nuwe mens te word wat U my gemaak het om te wees. Ek vra dit in Jesus se Naam, amen.