Los dit dan! … Of nie?
Die boodskap is dalk ’n bietjie erg en sal nie vir almal aanstaan nie. By voorbaat jammer as ek op tone trap, maar ek probeer net getrou bly aan die stukkie wat ek in die Bybel lees.
As Christen moet ’n mens partymaal ook hard praat, bietjie die stof van die boeke afvee en kyk hoe lyk jou lewenspad. Daarom is dit van tyd tot tyd goed om op jou eie op ’n klip te gaan sit om te bepaal waarheen is jy regtig op pad en waarvan praat jou lewenstories.
Op ’n manier gryp Paulus ’n mens voor die bors en vra: Wat is jou storie? Op watter pad wil jy loop? Op watter pad loop jy deur die dag? As jou dade nog in lyn staan met wat jy gedoen het voor jy Jesus ontmoet het, sit jy die pot mis. Dan doen jy die naam van God skade aan en dalk moet jy eintlik maar die ding van Christen- wees los, anders speel jy eintlik net en mors boonop jou tyd. As jy nie jou ou dade kan los nie, los dan eerder maar die Christen-ding!
Harde woorde, né? Maar dit is nodig, want op ’n manier gooi ons water by die ongelooflike daad wat Jesus vir ons gedoen het. Dis maar net nog ’n craze wat gekom en gegaan het. Los dit dan! As jy jou gedra soos mense wat nie vir God ken nie, los dit! Is jou kop vol onbelangrike dinge? Los dit dan! Is jy te hardkoppig? Los dit dan! Het jy nie meer ’n gevoel vir wat reg en verkeerd is nie? Los dit dan! Hoe vieslik is jou lewe nou regtig in God se oë? Los dit dan!
Miskien is die skoen nie vir jou nie, maar as dit dalk lyk of dit kan pas, trek dit maar aan.
Harde woorde, né. Ons kan nie so aangaan nie, want die pad lei na nêrens. Nee, dis nie waar nie. Dit lei ons op die ly-pad. Die pad van gemors en swaar en pyn en dood. Daarom stel Paulus voor: 22Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit.
Okay, ek weet ek is te hard om vir mense te sê “los dit dan”, al voel ek partykeer so. Jesus sou dit nooit gesê het nie. Hy sou hulle eerder nader getrek het en sy arms om hulle vuil klere gesit het en hulle ’n warm druk gegee het.
Ek is jammer.
Daarom moet ek seker aansluit by Jesus wat van die kruis af roep, in die woorde van Paulus: 23Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. 24Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek.
Miskien moet ons ook een van daardie WWJD (What would Jesus do) bandjies begin dra om ons aanhoudend te herinner, daar waar ons loop, om ons vuil klere te los en Jesus se kruis te leef. Maar, ai, die vuil hempsmou sal dalk weer stadig daaroor kruip en…
Moet ek dit dan los?
Nee, ek kan nie!
Teks:
Om oor na te dink
Wat is die klip in die skoen?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Waar is die nuwe klere?
Gebed
Vader, U het my gehelp om ontslae te raak van die ou en vuil klere. Help my nou asseblief om ’n skoon lewe te leef sodat my dade in lyn kom met my woorde. Ek begeer dat my gesindheid en my manier van doen van ’n nuwe, skoon lewe getuig. Amen