Luister!
God het in die Ou Testament daar op die berg Sinai met Moses gepraat. Dit was nie so ’n lekker ervaring vir mens en dier gewees nie. Hulle het eintlik bang geword. God het verder met Sy volk deur priesters en profete gepraat.
Toe kom Jesus na die aarde en watter kragtige boodskap van verlossing en genade bring God nie vir ons mense nie. ’n Mens kan dit seker as ’n liefdesverklaring van God se kant sien. Een groot Valentynskaartjie wat Jesus vir elke mens op aarde stuur.
Tog het God nie daar ophou praat nie. Hy het vir ons Sy Woord, die Bybel, gegee om presies te hoor wat Hy vir ons elkeen wil sê. Hy het heel waarskynlik geweet ons gaan effe sukkel om Sy fluisterstem te hoor en toe maak Hy nog ’n plan. Hy gee Sy Gees vir ons elkeen wat in Hom glo om soos ’n amplifier van ouds vir ons die klank lekker hard te draai, sodat ons presies kan hoor wat in Sy Woord staan en wat Hy vir ons elkeen wil sê.
God dink darem ook aan alles!
God praat vandag nog. God praat ook deur Sy natuur. Ons kan Hom goed leer ken deur net na Sy skeppingswonders te kyk. Ons kan Sy wil daar raaksien. Maar meer nog, God praat deur die mense om ons en ook met die dinge wat met ons gebeur. Oral is God aan die praat.
En tog sê baie: “Waar is God? Ek vra Hom om Sy wil vir my te wys, maar ek hoor niks nie. Is God op mute? Wie het God se stem stilgemaak?” Hier is nuus: Niemand het God se stem stilgemaak nie. God praat nog steeds vandag.
Die oorsaak van God se “dooie lyn”, lê nie aan God se kant nie, maar aan die mens se kant. Die wêreld raas so, dat ons selfs nie eers meer die Amplifier se stem hoor nie. En as ons self nie meer tyd maak om God se woorde in Sy Woord te lees nie, hoe sal ons dan nou ooit hoor wat Hy te sê het?
Op ’n manier het ons gekies om nie meer te hoor nie. En nou klink dit darem erg om dit so te sê. Maar is dit nie wat ons doen as ons nie moeite doen om by God uit te kom nie? Eintlik het ons ons rug op God gedraai en vir die wêreld en sy dinge gekies.
Ek wil nie veroordeel nie, maar dalk moet ons gaan kyk na die paaie wat ons die afgelope tyd geloop het. As jy God al die pad saam genooi het en moeite gedoen het om Sy stem te hoor, is ek so dankbaar en bly vir jou part.
Maar as jy dit nie gedoen het nie, praat God uit Sy Woord uit vandag met jou en dis nie ligte musiek nie: 25Moet onder geen omstandighede julle rug vir God draai wanneer Hy met julle praat nie. Die mense wat nie na Hom wou luister toe Hy met hulle hier op aarde deur Moses gepraat het nie, het lelik in die stof gebyt. As ons ons dan nie meer steur aan God wat uit die hemel met ons praat nie, sal dit nog slegter met ons gaan.
Mag dit nie waar wees van ons nie. Mag ons moeite maak om God se stem te hoor. Laat ons luister na Sy wil en dit orals gaan uitleef. Dalk kan ons so die dowes weer God se stem laat hoor.
Teks
Hebreërs 12:25-29
Om oor na te dink
Hoor jy nog God se stem?
Luister jy na God se stem?
Doen jy dit?
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, ek weet ek luister nie altyd nie. Ek weet ek doen nie presies wat U vir my in U Woord en deur U Heilige Gees sê nie. Help my om regtig stil te raak om U stem te hoor en dit dan daar buite in die wêreld te gaan lewe. In Jesus se Naam, amen.