God se Woord in vandag se woorde

Maak eers jou bril skoon


Ek gebruik gereeld die voorbeeld van ’n sonbril om te verduidelik hoe mense na mekaar kyk. Sonstrale beweeg horisontaal en vertikaal. Die vertikale strale is skadelik vir die mens. Daarom het ’n sonbril baie fyn gleufies waardeur die horisontale gleuwe kan kom, maar die skadelike vertikale strale kan nie daardeur kom nie.

Wanneer ons na mense kyk, kyk ons ook deur ’n sekere bril na hulle. Baie keer is die bril vuil. Dan kan ons nie mooi sien nie. Soos met ’n sonbril word net sekere strale toegelaat om deur te gaan, maar dié keer nie weens horisontale gleuwe in die lens nie, maar weens vuiligheid op die bril.

Ek dra ’n bril. Twee brille. ’n Multifokaal vir buite en ’n spesiale bril as ek voor die rekenaar sit. Ek raak so vies vir myself, want elke keer as ek die brille ruil, vat ek aan die glase wat veroorsaak dat ek nie meer so mooi deur hulle sien nie. Dan moet ek eers weer met die spuitkannetjie spuit en vee en vee tot al die vetterigheid afkom om weer ’n helder prentjie te sien.

Nou hoekom die stories oor die brille?

Ons moet besef dat ons na ander mense kyk deur ’n bril wat dalk nie so skoon is nie en dat die prentjie wat dan by ons oë ingaan nie noodwendig die werklikheid weerkaats nie. Ongelukkig beïnvloed dít wat ons sien ons optrede teenoor die persoon.

Ons moet besef dat ander mense se optredes en menings ook ons bril kan dof maak. Iemand sê net iets van iemand anders en boef, daar sit ’n kol. Dalk maak ’n persoon jou seer of doen nie soos jy wil hê nie. Dadelik sit daar ’n blerts op jou bril. Dit is juis die blerts wat jou op ’n volgende rondte gaan weerhou om die ware prentjie te sien.

Ons moet besef dat ons na alle mense kyk deur ’n bril. Na ons eggenote, kinders, kollegas, werknemers, vriende en selfs vreemdelinge. Ons moet besef dat die bril die meeste van die kere nie die ware prentjie reflekteer nie. Want daar is ’n klomp vullis op. Vullis wat baie keer deur ander daar gegooi is.

Daarom moet ons, wanneer ons met ander praat, seker maak dat die bril mooi skoon is. Paulus is ernstig hieroor wanneer hy vir Timoteus help om mense en leiers wat foute maak, aan te spreek: 21Ek beveel jou voor God en voor Christus Jesus en die uitverkore engele om jou aan hierdie voorskrifte te hou sonder vooroordeel of partydigheid. (1983-vertaling)

Wanneer Timoteus mense wat in die kerk verkeerd getrap het, aanspreek, moet hy eers sy bril gaan skoonmaak. Hy mag nie mense oordeel voordat hy hulle kant van die saak gehoor het nie. Hy moet seker maak dat ander se opinies of selfs sy eie opinies nie sy bril vuil maak en keer dat hy die ware prentjie sien nie.

Net so moet ons in alle omstandighede besef dat daar ’n goeie kans is dat die prentjie wat ons sien, so ’n entjie van die ware Jakob kan wees. Wanneer jy iemand moet aanpraat, vra vir die Heilige Gees om jou te help om die regte prentjie te sien sodat jy altyd in liefde optree.

Teks
1 Timoteus 5:17-22

Om oor na te dink
Wat maak jou bril vuil?
Hoe kan jy die ware prentjie sien?
Wie moet jy gaan help?

Gebed
Vader, ek besef ons almal het ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie met vooropgestelde prentjies by ander opdaag nie. Help ons om altyd seker te maak dat ons bril skoon is en só U wil uitleef deur altyd in liefde op te tree. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek