God se Woord in vandag se woorde

Maak vol die petrol


Ons liggame het elke dag kos nodig om te oorleef. As ons nie ons liggaam petrol gee nie, gaan ons een of ander tyd staan en omval. Ons spandeer ’n groot gedeelte van ons dag om ons liggame aan die gang te hou. Ons spandeer gemiddeld meer as ’n uur om te eet. Nou praat ek nie eens van die voorbereiding daarvan of die tyd wat ons spandeer om dit te koop en tyd wat ons moet werk om die geld te verdien om kos te koop nie. Het jy geweet dat ons 1 ton kos per jaar eet? Dis meer as ’n bakkie vrag!

Maar wat nou van geestelike kos? Hoeveel tyd bestee ons daaraan? Gryp jy gou ’n dagstukkie boek en lees dit vir die kinders, rammel ’n gebed af en glip die wêreld in? Is dit genoeg om geestelik deur die dag te oorleef?

In die Washington Post verskyn daar ’n navorsingsartikel oor wat Amerikaners gemiddeld in ’n dag doen: slaap = 8-9h, persoonlike versorging = 28-46min, pendel = 29-63min, werk = 6-8h, huiswerk = 26-45min, religieuse aktiwiteite = 2-17min, ontspanning 4-6h, TV 2-3h, lees 13-29min en dink en ontspan 8-30min. Religieuse aktiwiteit is 2-17 minute. Ek dink ons almal stem saam dat 2 minute te min is om genoeg petrol in te gooi om jou geestelik deur die dag te trek. Ek wonder of 17 minute genoeg is om opgewasse te wees teen die aanvalle wat kom.

Hoekom gly ons so maklik teen ’n versoeking? Hoekom raak ons geestelik so gou uitgeput en sleep ons deur die dag? Hoekom kry ander dit reg om ons eenvoudig van ons geestelike voete te stamp?

2 – 17 minute is eenvoudig nie genoeg nie. Dis eintlik voor die hand liggend.

Paulus weet dit ook en daarom bid hy kliphard vir sy gemeente en vir ons: 14Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. 15Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op die aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. 16Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan.

Die Gees is in ons. Ons weet dit. Die Gees is Almagtig. Hy is God se Gees en besit Goddelike krag. Die Gees besit oor meer as genoeg krag om vir ons te gee om deur die dag te kom. Die ding is dat ons net lank genoeg moet stilstaan sodat ons geestelike petroltenk kan vol raak, maar ons kry dit nie reg nie.

2-17 minute per dag is ver te min om ons geestelike tenk vol te maak.

Die kennis en krag wat die Heilige Gees in ons tenke gooi, neem tyd in beslag. Dis nie soos by ons petrolpompe waar ons ons karre vol maak en waar hulle probeer om binne ’n minuut of twee die kar se tenk vol petrol te gooi nie. Hoe vinniger die tenk vol kan kom, hoe meer karre kan volgemaak word, hoe vinniger rol die rande in.

Nee, die Heilige Gees wat ons geestelike petroljoggie is, werk anders. Hy neem Sy tyd, want dit gebeur binne ’n verhouding. Groot waarhede word oorgedra. Daar word getimmer en gewerk om uiteindelik ons wese so te verander dat dit binne die wil van God pas.

Tyd, waarvan ons so min het, is baie belangrik binne die verhouding met die Heilige Gees. Daarom is die uitdaging hier dat ons ’n vaste afspraak met die Heilige Gees sal maak. Lank genoeg, sodat Hy op sy tyd ons geestelike tenke sal vol maak, sodat ons veilig deur elke dag sal stap.

Teks:

Efesiërs 3:14-21

Om oor na te dink

Staan jy elke dag genoeg stil by die Heilige Gees?

Is jy geestelik volwasse?

Bly jy staande teen die aanslae?

Gebed

Vader, kom ons wees nou maar eerlik en erken dat ons nie genoeg tyd saam met U Gees deurbring nie. Help ons om ’n afspraak elke dag te maak. Help ons om dit gedissiplineerd na te kom. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek