God se Woord in vandag se woorde

Make me proud son


Soms wonder ek hoekom ’n mens sonde doen? Is dit omdat dit lekker is? Is dit die maklikste pad om te volg? Is dit ’n mens se manier van dinge doen wat jou makliker die verkeerde dinge laat doen?

Dis asof dit ’n mens se default is om sonde te doen. God het ons nie so gemaak nie. Ek vermoed dis Adam en Eva se swak keuses in die tuin van Eden wat ons mense se default ’n hou op die neus gegee en vir altyd verander het.

Daarom dat die eerste keuse tussen reg en verkeerd gewoonlik laasgenoemde is – dikwels met katastrofiese gevolge. Baie mense wat nie eens direk by die keuse betrokke was nie, word gewoonlik erg benadeel.

Soos die ou wat toegelaat het dat ’n vrou te naby aan hom kom. Nou is die kinders deel van die statistieke. Hulle weet nie meer waarvandaan hulle kom nie en nog minder hoe hulle deurmekaargekrapte pad in die toekoms gaan lyk.

Of die ou wat op die boeke nog ’n nul bygesit het. Baie het hulle geld by hom belê het, net om later uit te vind dis ’n liegstorie. Geldgierigheid het die oorhand gekry. Nou sit baie sonder die geld wat vir hulle aftrede sou sorg. ’n Vriend van my wat klaar afgetree het, moet nou weer begin werk soek.

Die ou het vanuit sy default opgetree. Dit was verkeerd en ’n klomp mense is ingeloop oor sy verkeerde keuses.

Ons moet elke oomblik opstaan teen hierdie default. Ek vermoed dis ’n lewenslange stryd. Ons moet nooit te gerus word nie, want net om die volgende draai staan die versoeking en voor ons ons kom kry, het ons weer daarin getrap.

God sê ons moet soos Hy wees. 16Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.” (1983-vertaling) God is sonder sonde. Sy default het nie seergekry nie en nog minder verander.

Ons wat kinders van God is, moet na Hom aard. Ons moet soos Hy optree. Ons moet doen en sê soos Hy doen en sê. Wees heilig, want Hy is heilig.

Ons moet dinge doen wat vir God aanneemlik is.

’n Vriend van my kuier uit Australië en ons praat oor hoe ons kinders opvoed en hoe ’n groot taak dit is, veral te midde van al die invloede wat sommerso die een na die ander op hulle fone aangevlieg kom.

Hy het ’n goeie voorstel. Hy vertel dat hy probeer om nooit sy seun toe te gooi met ’n klomp do’s and don’ts nie. Wanneer sy seun egter op pad uit is iewers heen, sê hy slegs: Make me proud, son!

Dis presies wat ons moet doen. Ons moet vir God trots maak wanneer Hy na ons kyk. Hy moet trots wees as Hy sien hoe ons ons default en die versoekings teenstaan.

Met die hulp van Sy Heilige Gees wat in ons woon, kan ons ’n lewe leef wat vir God trots maak.

Teks
1 Petrus 1:13-16

Om oor na te dink
Hoe lyk jou sondelysie?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Hoe kan jy heiliger lewe?

Gebed
Vader, ek wil soos U wees. Ek wil soos U lewe, maar tog val ek te gereeld terug na my vorige default. Help my, asseblief, dat ek dit tog nie so gereeld doen nie. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek