Martelend uitsien na die hemel?
’n Predikant of ’n pastoor het mos eendag op die kansel geklim en begin om blaaie uit die Bybel te skeur. Die mense was baie ontsteld en het hom, soos die Engelsman sê, na die cleaners toe gevat. Hulle was erg kwaad en het gesê dat hy nie ontsag vir die Woord van God het nie.
Hy wou op ’n eenvoudige manier vir die gemeente wys hoe hulle eintlik die Bybel lees. Hulle lees net die lekker stukke. Hulle lees net die mooi stukke en maak moeite om nie die moeilike, uitdagende stukke te lees nie.
Hy het nogal ’n punt beet.
Dit was nou baie lekker om al die mooi stories te hoor van oorwinnings omdat mense geglo het. Dis eintlik ons kleintyd helde. Ons ouers moes heeltyd vir ons die stories lees van Simson, Dawid, die manne in die oond en nog meer. Dit wat hulle met geloof reggekry het, was wonderlik en ons wou dit weer en weer hoor.
Die volgende gedeelte gaan egter nie oor die mooi stories van geloof nie. Dit gaan oor die uitdagende stories. Die stories wat meer as ’n pond vleis gevat het. Dis net mooi die teenoorgestelde van ’n feel good movie:
35Dit het ook gebeur dat vroue wie se dierbares dood was hulle weer lewendig teruggekry het. Maar daar was ook ander wat eerder gekies het om gemartel te word as om onder sekere voorwaardes losgelaat te word. Hulle het daarna uitgesien om na die dood op te staan in ’n baie beter lewe by God. 36Party is uitgejou en geslaan, terwyl ander geboei in die tronk gegooi is. 37Die lysie word langer: van hulle is met klippe doodgegooi, ander is in stukke gesaag of met swaarde doodgekap. Met party het dit so sleg gegaan dat hulle net ’n skaap- of bokvelletjie gehad het om aan te trek. Hulle het nie eens behoorlik kos gehad om te eet nie, en waar hulle ook al gekom het, het mense hulle weggejaag en sleg behandel. Hulle het in die wildernis gaan bly en in grotte en gate weggekruip. 38Die wêreld het nie regtig besef wie hulle is nie, want dan sou hulle geweet het dat hierdie mense baie beter as hulle was. 39Hoewel daar soveel mooi dinge oor hierdie mense gesê is omdat hulle so op God vertrou het, het hulle ook nog nie alles gekry wat God vir hulle beloof het nie.
Die ergste van alles is dat dit vandag nog gebeur. Kort-kort kry ons ‘n berig van Christene wie se koppe met swaarde afgekap is of wat voor ’n vuurpeleton moes staan.
Hierdie mense het nie ingegee nie. Hulle het nie dit waarin hulle glo, ingeruil om te bly lewe nie. Hulle geloof was so sterk dat hulle bereid was om te sterf daarvoor.
Ek wonder hoe sterk my geloof is. Ek wonder of my geloofsfondasie sterk genoeg is om my huis staande te hou as die aardbewings dit in mekaar wil laat tuimel. Ek wonder of jou geloof sterk genoeg sal wees?
Ek hoop so. Ek glo so. Mag ons nooit by die toets uitkom nie, maar as dit dan so is, mag ons ons kop sak en ons oë toemaak en uitsien om binnekort by die beter lewe van God uit te kom.
Teks
Hebreërs 11:32-40
Om oor na te dink
Hoe vêr sal jy gaan met jou geloof?
Hoe lank sal jy marteling uithou vir jou geloof?
Sal jy jou kop sak en uitsien na die hemel?
Gebed
Vader, ek is bang my geloof is te dun. Ek is bang ek word geweeg en te lig bevind. Ek is skaam daaroor. Ek wil nie nou verskoning vra nie, maar eerder daaraan werk. Help my asseblief. In Jesus se Naam, amen.