God se Woord in vandag se woorde

Meer as goud in die erfporsie


My foon lui. Dit is ’n No caller ID ene. Ek tel nie meer deesdae sulke nommers op nie. Maar die ou is aanhoudend. Ek antwoord later die telefoon, so half skepties en nie te oorvriendelik nie.

Hy sê ek moet kom na my oupagrootjie se plaas. Ek vertrou niks nie en wil die foon neersit. Met al die dinge hoe mense vandag met ’n slap riem gevang word, wil ek nie ook my naam met ’n plank slaan nie.

Hy vertel dat hy die prokureur op die dorp is en dat hy ’n baie groot verrassing vir my het. Ek gaan sy besonderhede op die internet na, bel ’n vriend van ’n vriend wat hom ken en besluit om die pad te vat, oupa se plaas toe.

Die prokureur ontmoet my by die hek. Hy klim sommer by my bakkie in, want die pad is te sleg vir sy slap kar. Hy is opgewonde en glimlag van oor tot oor. “Jy gaan nie glo wat jy vandag gaan sien nie,” sê hy.

Ons stop voor ’n ou skuur. Daar staan ’n paar manne in oorpakke rond met grawe. Hy stoot ’n deur oop. Ek sien dat hulle besig is om die honderdjarige oue gebou te restoureer. Hy wys ek moet na die muur toe stap.

Sjoe, ek het nog nooit so ’n dik muur gesien nie. Toe val my oë op die groot blik kis in die middel van die muur. Die prokureur sê ek moet die deksel oplig. Ewe skielik weerkaats daar lig uit die kis soos die son se strale op die goudstawe weerkaats.

Ek kon my oë nie glo nie. En hy sê: “Daar is nog nege sulke kiste in die muur versteek. Jy is die enigste erfgenaam …”

Ek kon my geluk nie glo nie. Dit klink soos ’n storie uit ’n fliek. Wel, um, dit is eintlik net ’n storie, want die storie het ek as kind gedroom, maar ongelukkig nooit in my lewe by die werklikheid uitgekom nie.

Dit sou darem lekker gewees het, maar weet jy, ons het eintlik ’n familielid wat vir ons baie meer as kiste goud in die stoorkamer het. Deur Jesus se dood aan die kruis het Hy vir ons ’n erfenis nagelaat wat out of this world is.

Ons erf ’n lewe wat nooit gaan ophou nie. Ons erf ewigdurende geluk en samesyn met ander gelowiges en saam met Jesus en God self. Ons gaan saam met die engele sing dat die biesies bewe, sonder enige aardse liggaam wat die handrem aan los.

Hoor hier: 3…Nou het ons ‘n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word (1983-vertaling).

Roes laat dik sterk staal verbrokkel soos ’n skilferkors op ’n melktert. Motte vreet gate in sterk materiaal. Hier op aarde word dinge gesteel en ons verloor waardevolle goeters. Niks kan eintlik gewaarborg word nie.

Maar ons erfporsie in die hemel het ’n waarborgstempel van God. God rugsteun die waarborg. Daarom sal dit nie vergaan nie, dit sal nie besmet word nie en nog minder verwelk. As ons daar opdaag, kan jy maar met alles in jou glo dat jou erfporsie daar vir jou sal wag. Sjoe, hoe wonderlik is dit nie om uit te sien na so ’n erfporsie nie!

Teks
1 Petrus 1:3-5

Om oor na te dink
Hoe lyk jou erfporsie?
Glo jy dat dit daar sal wees?
Vir wie kan jy daarvan vertel?

Gebed
Vader, hoe groot is U nie! Hoe groot is Jesus nie! Hoe groot my erfporsie! Ek sien so uit daarna. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek