God se Woord in vandag se woorde

Meer as random deeds of kindness


Ons word omtrent elke dag op ons dade gewys. Ons hoor keer op keer dat ons goed moet doen aan ander. En die meeste van ons wil goeddoen aan ander. Maar wanneer die lewe so vinnig hol, is dit nie altyd maklik nie. Ons sukkel om alles te los om eers aan iemand se nood aandag te gee.

Ons almal sukkel. ’n Predikant vriend van my is so eerlik hieroor:

Ek dop geheel en al. Daar klop gereeld ontydig mense aan my deur. Selfs Sondae wanneer ek met alles onder die arms staan – Bybel, liedboek, memory stick met die dag se Power Point, kategese boeke. As ek dan eers kos maak, raak die kerkraad in die konsistorie op hulle senuwees en die ou wat die data-projektor werk, raak bekommerd.  WWJD.  Dalk moes my gemeente my beter geken het dat hulle NIE dink dat ek verslaap het nie maar redelik seker is dat ek eers iewers iemand help.  En dan maar solank begin bid…… 

So mooi, maar die praktyk sukkel. Veral as ek al vir dieselfde ouens ‘n paar keer gesê het jy kan nie Sondagoggend net voor kerk kom nie, ook nie weeksoggende wanneer ons uiteindelik die twee kids in die motor het en die skoolklok lui oor 6 minute nie…

Is dit nie maar waar van ons almal nie? Hier en daar kry ons reg om goed te doen, maar ons sukkel om dit voortdurend te doen. Eintlik doen ons net goed wanneer dit ons pas en soms net wanneer ander kyk. So asof ons die nood wil voorskryf wanneer om sy opwagting te maak.

Ons almal sukkel.

18Dit is goed dat julle ywerig is om te doen wat reg is. Julle moet dit egter nie net doen wanneer ek daar by julle is nie. Nee, julle moet elke dag goeddoen…

En ons voel skuldig.

’n Onderwyseres vertel die storie:

Ek hou skool en daar is baie verlore tieners. Ek het die vorige dag my vasgeloop teen ‘n rebelse, lui seun wat tatoeëermerke in sy nek het en gevoellose oë. Ek’t weggeloop en gedink: It’s not worth it! Tog het God se Gees my heeltyd aan die kind laat dink. Daardie aand het ek besef dat God hom liefhet en wil red.

Ek het toe op n papier geskryf: You don’t know me, but I have an urgent message from God for you. Ek het dit 2 dae in my handsak gedra en gewag om hom weer te sien. Toe het ek hom eenkant geroep en verduidelik van aanloop tot nou. Hy lees die brief. Ek sê toe as hy reg is om die boodskap te hoor, moet hy kom want sy lewe gaan verander. Hy loop daagliks by my verby en groet…

’n Vriend kom te hore van die storie en besluit om ’n spesiale sokker Bybel vir die seun te stuur. Die onderwyseres skryf aan hom terug:

Ek is aangedaan oor die Bybel wat jy vir die seun gestuur het. Ek het dit vir hom gegee om oop te maak. Hy was stomgeslaan toe hy sy naam en die persoonlike boodskap voor in die Bybel sien! Dankie dat ek nou besef dat as ek dink ’n kind wat so stout en rebels is, is not worth it, dan wys God hy is soveel werd vir Hom dat Hy ’n boodskap van ‘n vreemdeling, in die vorm van boeke , persoonlik laat koerier, met sy naam (wat God voor grondlegging al geken het) voor in een van die boeke. God is groot, liefdevol en genadig. Ek’s dankbaar dat ek deel kon wees hiervan, al weet niemand van ons wanneer die seun God sal toelaat in sy lewe nie.

Die Kaapse radiostasie, KFM, het elke einde van die jaar random deeds of kindness waar hulle ’n platform skep waar luisteraars mense wat in nood is, kan help. Keer op keer huil ek die stuurwiel papnat, want sien, as mense se hande oopgaan, spreek dit tot my hart. Tog hoef ons nie te wag vir ’n radiostasie om so ’n projek te loots nie. Nee, ons kinders van God moet orals waar ons gaan, dwarsdeur die dag plekkies soek om goed te doen. Nie om iets te verdien nie, maar omdat ons so baie ontvang, kan ons mos nie anders as om daarvan uit te deel aan die mense om ons wat dit net so min soos ons verdien nie.

En ek weet ons gaan sukkel, maar kom ons probeer weer!

Teks

Galasiërs 4:8-21

Om oor na te dink

Waar kan jy ’n verskil maak?

Wanneer kan jy nog ’n keer ’n verskil maak?

Hoe gaan jy ’n verskil maak?

Gebed

Here, dis is moeilik om goeie dinge te doen. Dit is nog moeiliker om goeie dinge te doen as dit nie lekker in ons besige skedule inpas nie. Tog weet ek ons moet uit dankbaarheid goeddoen. Ek sukkel en daarom het ek U krag en leiding nodig. Help my tog, Vader. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek