God se Woord in vandag se woorde

Meer as wat jy verdien


As ons vir ’n wyle die pas makeer en terugloer na die vorige verse, is dit asof ons in die spieël kyk. Ons kyk vas in die sondige mens wat die heeltyd skeeftrek en dat dit ons aard is om weg te beur van God af.

Kom ons wees eerlik met onsself en erken dat ons soms in gevegte vasgewikkel is en as ons na die wortel daarvan gaan soek, word dit meestal aangevuur deur selfsugtige behoeftes of begeertes.

Baie keer ontvang ons nie, want ons bid nie. Baie keer ontvang ons nie, want ons bid verkeerd, want selfs ons gebede word aangevuur deur die dinge wat ons begeer. Ons gebede is amper soos ’n inkopielys.

En ja, ons hou van die wêreld. Ons hou so baie van die wêreld, dat ons toelaat dat die wêreld ons aan ons neuse lei, soos wat ’n mens ’n bul aan ’n klein ringetjie in sy neus lei. Soos klein robotte doen en dink ons soos die wêreld ons geprogrammeer het.

Dis nie ’n lekker prentjie nie en dit maak ’n mens skaam. As die lig op ons dade skyn, voel ons skaam. Dan wil ons eintlik in ’n hoekie gaan wegkruip en alles wat ons doen, wegsteek vir niemand om te sien nie.

Maar dankie tog, daar is ’n liefdevolle Vader. Dankie tog dat Hy ons nie alleen los in die hoekie van ons lewens nie. Dankie tog dat Hy ons beteuterde posisie raaksien en iets daaraan doen en ons kom uithelp.

Hoe?

6God gee ook vir ons baie meer as wat ons nodig het om so te leef, sonder dat ons dit verdien. God skenk vir ons hope en hope genade. Genade wat hierdie foute en skeeftrek van ons uit die oog kom haal.

Ons weet ons hoef nie pa te staan vir die straf van ons sondes nie. Ons hoef nie iets te gaan offer, sodat die bloed van die dier in die plek van ons bloed moet loop nie. Ons hoef dit nie weer en weer en weer te doen nie.

Jesus se bloed het eenmalig gevloei en dit was genoeg, oorgenoeg om die straf van die hele mensdom eens en vir altyd weg te neem. Dankie tog daarvoor! Dit is lewensreddende musiek in ons sondige mens se ore.

Vir ons bakleiery en selfsugtige begeertes, vir ons geen of skewe gebede en selfs vir ons liefde vir die wêreld, ontvang ons genade. Dis soveel meer as wat ons verdien, maar dit is God se manier van doen.

Die vraag is wat jy nou met die genade doen? Ek dink ons mors met hierdie Godgegewe genade as ons aanhou op ons ou weë. Met hierdie genade in die sak, moet ons juis probeer om te breek met die oue en die nuwe pad saam met God stap. Mag ons sommer nou begin om daaraan te werk!

Teks
Jakobus 4:1-6

Om oor na te dink
Watter dinge in jou lewe pla nog?
Hoe kan jy ontslae raak daarvan?
Hoe leef jy in dankbaarheid vir die genade?

Gebed
Vader, sjoe, so dankie vir al die genade. Soveel meer as wat ek verdien. Help my om aan my eie lewe te timmer en ontslae te raak van die dinge wat pla, vir U en vir my. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek