Meer as net ruimte hê
Ek vra myself die vraag: Hoekom druk Paulus nou so hard op hierdie liggaamsoefening? Het hy nie klaar sy punt gemaak nie? Goed, ek verstaan dat die ouens baie onder mekaar baklei het in daardie tyd en dat dit nodig was vir Paulus om hulle meer as een keer oor die kole te haal. Maar het dit nog vir my enige sin vandag? Ek wil eers hierteen stry, maar dan besef ek dat dit wel tog nog op my en jou van toepassing is.
Jy sien, ons het te gewoond geraak aan ons manier van lewe. Eintlik dink ons dat ons manier van lewe die enigste manier is van dinge doen. Die mense “onder” ons is maar net lui en stupid en as hulle meer van hulle kanse gebruik het, sou hulle verder in die lewe gewees het. Die ander mense “bo” ons loop net neus in die lig, is selfsugtig en sien nie ander wat swaarkry raak nie… Ironies dat die mense wat “onder” ons is, weer dieselfde dink van ons wat dus “bo” hulle is!
Dit is nie reg nie. Elke persoon in die wêreld het ’n reg en ’n plek om te bestaan en wie is ons om te klassifiseer of te nommer? Ek sê altyd vir my vrou dat ons so bedrywig raak in die speel van die lewe, dat ons nie regtig altyd ’n goeie visie het van wat regtig aangaan nie. So nou en dan moet ons die wedstryd stop, op die pawiljoen gaan sit en net ’n bietjie kyk waar pas ek nou eintlik in die spel.
Wanneer jy op die pawiljoen gaan sit, sal jy een of ander tyd kan insien dat die ander wat daar is, nie slegter of beter as jy is nie, maar dat elkeen sy rol binne die lewe speel. As die ander een nie daar was nie, sou jy miskien sy plek moes vul en verseker sou jy dit nie geniet het nie, want dis nie jy nie!
So wat is die storie dan? Is daar dalk iemand of ’n groep mense vir wie jy ruimte moet gee? Dis nie nodig om een en elkeen te nooi vir ’n braai nie. Dalk moet jy net vir die persoon of persone hulle regmatige plek in die son gee sodat hulle ook kan blom!
Miskien gaan dit verder as net ruimte gee: 25Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. 26As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.
In die liggaam, of anders gestel, in die wêreld waar ons vandag leef, gaan dit nie maar net om ruimte vir mekaar te gee en te sê: “Jy kan maar doen wat jy wil op jou molshoop, los my net asb uit” nie. Nee! Hier is drie groot opdragte vir ons:
1. Moenie stry nie! Weet jy dat God dit haat as ons so stry en baklei? Sit gou terug en dink by jouself: Wie staan in die middel van elke gestryery? Om wie se behoeftes gaan dit? Wie wen? Probeer om dit nie te doen nie. Dit verkleineer ander. Dit verwoes verhoudings en saai net negatiewe energie.
2. Hê respek! Ek het nie respek vir ander as ek stories agter hulle rug vertel nie. Ek het nie respek as ek ander se naam deur die modder sleep nie. God haat dit! Miskien moet ons ander respekteer soos wat ons respek van hulle wil hê.
3. Gee vir mekaar om! Ons moet tog omgee vir mekaar. Hoe kan ek ’n groot partytjie hou en braai dat die geur die hele vertrek vul as my buurman in my dromme kom krap vir kos.
Eina! Nou bring ek dit te naby aan myself!
Ek kry gister ’n e-pos van ’n vriendin: Sy het uitgevind sy het osteoperose. En my hart huil en ek is ontsteld, want daar is ’n deel van die liggaam wat seerkry, daarom kry ek ook seer.
Miskien moet ons ons eie wel en wee vir ’n slag onder die vergrootglas neem. Ons moet kyk hoe ons die spel van die lewe speel. Dalk moet ons van agter ons hoë mure uitklim en meer as net ruimte gee. Dalk is omgee presies dit wat die ander persoon nou nodig het.
Om oor na te dink
Waar moet jy ophou stry?
Waar moet jy meer respek gee?
Vir wie moet jy ruimte gee en aan wie moet jy aandag gee?
Gebed
Vader, ek weet ons word gou vasgevang in ons eie lewe en sien dan nie die plekkies raak waar U wil hê ons moet U hande en voete wees nie. U het vir ons elkeen gawes gegee en ons moet daarmee in die wêreld gaan ploeg. Maak ons oë oop om te sien. Klop ons wakker, sodat U wil vandag sal geskied orals waar ons gaan. Amen
(Inus Baard het sy staptog (waaroor ons verlede week gesels het) suksesvol voltooi. Indien jy meer oor die wonderlike reis wil lees, kliek hier.)