God se Woord in vandag se woorde

Mense van die donker nie ingeplug


2 Korintiërs

In die wêreld is dit die heeltyd ’n gestoei tussen die lig en die donker en dit is asof die donker aan die wen is. Kyk net een aand die nuus of neem die koerant en maak ’n lys met twee kolomme. Noem die een kolom stories oor die donker en die ander stories oor die lig. Ek en jy weet onder watter kolom al die stories gaan lê.

Ons is al so gewoond aan die stories oor die donker dat ons nie eens meer die stories van die lig mis nie. Hier is ’n ou wat dit elke dag direk in die oë staar:

Ek is ’n begrafnisondernemer wat amper elke dag na mense se legacies moet luister! Ai, ai, ai, is al wat ek kan sê! Die Here word baie min genoem! Dis ’n ge-brag van begin tot einde oor wat die persoon als gedoen het in sy lewe. Sad, very sad!!!

Die duiwel hou die mens so besig met aardse dinge (geld maak, huis, kar, werk, image, bevordering, ens) dat ons soos ’n donkie met ’n wortel voor sy neus raak! Al wat ons sien is die wortel!  Maar as jy die Here ken (nie net van Hom weet nie, maar regtig ken), is jy soos daai mense in die Matrix – jy is unplugged! Jy sien waaroor die lewe werklik gaan!

Dit is dan so sad om mense te sien wat steeds met die wortel voor hulle neus rondloop! Jy probeer om hulle ook te unplug, maar ai, ai, ai. Die ou mensdom is so hardkoppig!

Hier is iemand wat elke dag gekonfronteer word met mense wat klaar die lewe geloop het. Hulle bestaan op die aarde is verby en al wat oor is, is hulle legacy. Die prentjie herhaal hom die heeltyd en die prentjie is nie mooi nie. Dis ’n prentjie van donkerte. ’n Prentjie waar mense nooit die lig raakgesien het nie. Saam sug ons en wonder hoekom kon hulle nooit unplug nie. Hoekom kon hulle nie verby die wortel kyk en die lig en Lig raaksien nie?

3As dit wat ek oor Christus sê vir party mense onverstaanbaar is, is dit net hulle eie skuld. 4Dit is omdat hulle op pad is na die doderyk toe. Hulle het toegelaat dat die god van hierdie donker wêreld hulle blind maak. Omdat hulle nie glo nie, is hulle lewe nou pikdonker. Daarom sien hulle nie die lig wat die goeie nuus oor Christus in mense se lewe bring nie.

Ek het eintlik so ’n naar kol op my maag, want elkeen van ons kom elke liewe dag met mense in aanraking wat nog in die donker rondploeter. Wat doen ons daaromtrent? Steek ek die lig van Jesus weg of kan mense dit sien? Hoeveel kanse kry ek elke dag om vir die ouens in die stikdonker ’n stukkie lig op hulle pad te wees?

Dit het tyd geraak dat ons ’n pen inkap en sê: Nie ’n stukkie verder nie. Ons kan nie die lewe op ons manier leef, terwyl ander hier langs ons en om ons in die modder rondploeter nie. Ons móét God se lig en Lig laat skyn. Ons is dit oor en oor verskuldig aan die mense wat saam met ons deur die lewe stap.

Deur elke ding wat ek doen en sê, elke stukkie optrede van my moet die lig van Jesus uitstraal. Die manier waarop ek die petroljoggie groet en vra om die kar vol te maak, die dame agter die kasregister, die persoon wat bel om nóg ’n selfoon pakket aan jou te verkoop, jou geliefde wat alweer nie gedoen het soos jy gevra het nie, orals deur jou optrede moet jy die lig en die Lig laat skyn.

Die lewe sal anders wees wanneer ons dit doen. Vir seker!

Om oor na te dink

Hoe kan jy Jesus se lig die wêreld indra?

Waar doen jy dit nie altyd nie?

Waar kan jy dit nou gaan doen?

Gebed

Ons Vader, dankie dat ek die Lig kon sien. Daar is soveel mense wat dit nog nie sien nie. Ek weet en verstaan dat dit my verantwoordelikheid is. Dit is ’n groot verantwoordelikheid. Help my om dit tog reg te kry orals waar ek deur die lewe loop. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek