God se Woord in vandag se woorde

Met die dood wat oor jou skouer loer


1 Korintiërs

Ek Skype met ’n ou skool pel wat die helfte van sy besigheid daar doer onder in Australië verkoop het. Hy is moeg vir die tien tot twaalf ure se werk per dag. Hy en sy gesin gaan vir drie maande deur Afrika toer. Die dag voor hulle vlieg, storm sy nuwe vennoot die kantoor binne. Sy vriend is so pas dood aan ’n hartaanval. Nege en veertig jaar oud. Net so.

Hier in ons dorp maak ’n nuwe Spar oop. Die winkel is pragtig. Die eienaar kan baie trots voel. ’n Week later is hy op pad huistoe aan ’n hartaanval oorlede.

Dit maak nie saak teen watter spoed jy die petrol van die lewe trap nie, die feit bly staan dat die dood dalk net agter die volgende draai vir jou staan en wag. Niemand weet wanneer die dood op jou voorstoep staan nie. Al waarvan ons kan seker wees is waarheen ons gaan as die dood sy opwagting maak. 31My liewe broers en susters, dagin en daguit leef ek in die skaduwee van die dood. Daarvan kan julle net so seker wees as dat ek trots is op wat Christus Jesus, ons Here, vir julle beteken en gedoen het.

Dit is ’n feit soos ’n koei. Ons almal lewe in die skaduwee van die dood en nee, ons hoef nie die heeltyd in vrees te lewe en ons pap te stres vir die dood wat om die draai lê nie. Sit eerder jou energie daarin om seker te maak dat jou saak met God reg is. Paulus draai nie doekies om nie: 34Ruk julle reg en hou op om verkeerde dinge te doen. Julle behoort julle te skaam dat party van julle regtig geen idee het van wie God is, wat Hy kan doen en wat Hy van julle verwag nie.

Dalk is jy oraait en is die boodskap eintlik vir iemand anders bedoel. Maar dalk is jy die een om dié boodskap aan daardie persoon oor te dra. Dalk spring daar iemand se naam in jou kop op en jy weet al lank dat daardie persoon se saak nog nie 100% met God uitgesorteer is nie.

En ’n mens hoef nie ’n big deal daarvan te maak nie. Vra sommer net so in ’n gesprek vir die persoon waarheen gaan hy as die dood môre aan sy deur kom klop. Die meeste van die mense sê gewoonlik dat hulle hemel toe gaan, want êrens steek daar nog iets vas van wat hulle in die Sondagskool geleer het.

Dan vra jy die volgende vraag: As jy daar bo in die hemel kom en hulle vra vir jou hoekom hulle jou moet toelaat en jou vriend antwoord enige iets anders as “omdat Jesus vir my sondes gesterf het”, is daar perde. ’n Persoon wat nie seker is nie antwoord gewoonlik iets soos “ek was darem nie te sleg nie en het darem ’n paar goeie dade gedoen.”

Ons weet mos dat dit nie genoeg is om die by die hekke van die hemel in te kom nie. Die mense met wie ons elke dag in aanraking kom, het ons broodnodig. Wat hierna in hulle lewe gaan gebeur, het baie met ons te doen. Mag ons nie ons opdrag versaak nie. Mag die vreugdevure hoog brand in die hemel, omdat ons ’n verskil gemaak het waar ons gaan. Dalk net omdat ons die mense om ons gewaarsku het dat ’n bus hulle môre kan trap en dat hulle hulle saak met God moet regmaak. Dat hulle ’n persoonlike verhouding met God moet aanknoop en dat hulle hulle lewe in lyn met God moet kry.

Mag God ons krag gee om dit te doen. Mag ons ons skaamheid in ons sak druk en met die Gees as krag supplier ander na ’n persoonlike verhouding met God lei.

Om oor na te dink

Waarheen gaan jy as jy eendag (dalk môre) deur ’n bus getrap word?

Wat is die rede dat jy in die hemel toegelaat moet word?

Vir wie moet jy die twee vrae gaan vra?

Gebed

Jesus, dankie dat ek weet dat ek eendag deur die hekke van die hemel sal stap. Dankie dat U dit vir my moontlik maak. Help my om die wonderlike nuus nie vir myself te hou nie, maar vir almal wat U op my hart lê, te gaan vertel. Hier ry baie busse rond. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek