God se Woord in vandag se woorde

Met die nuwe motor onder die arm


Ek vermoed ek het ook so ’n ligte klap van die petrol head windpomp weg. So nou en dan sit ek vasgenael voor die kassie en staar verwonderd na hoe hulle ’n ou tjor in ’n splinternuwe vlagskip vervoermiddel verander. Van krok na lang, slap, blink wa. As die eienaar die eerste keer instap, kap sy kakebeen amper op die grond. Hy kan nie glo dat sy krok nou so lyk nie en dis nie lank nie of hy sleep die strate in met sy kar onder die arm.

Soms wonder ek of dit die moeite werd is om soveel geld aan ’n ou tjor te spandeer, want eintlik bly daar nie veel van die ou kar oor nie. Alles word met nuwe parte vervang: enjin, ratkas, dryfas, onderstel, wiele, dashboard, sitplekke, alles is nuut. Al die roes word uit die bakwerk gehaal en nuwe stukke metaal word oral ingesweis.  Alles word ook mooi netjies oorgespuit. As jy in die wa klim, ruik dit net soos ’n nuwe kar. Die oue heeltemal vergete.

En dit lyk my dis die prentjie wat Paulus in gedagte het wanneer hy praat van ons wat ’n splinternuwe mens word wanneer ons saam met Jesus deur die lewe loop. Wanneer jy Jesus in jou lewe nooi, word baie parte uitgehaal en met nuwes vervang. Jou kop dink heeltemal nuut. Die woorde wat by jou mond uitvlieg, kom uit ’n nuwe woordeboek. Jou oë kyk anders na die wêreld om jou. Jou hande en jou voete vat en loop anders. Jou hart het ook nuut geword. Van die oue is daar nie veel oor nie. Eintlik maar net die bakwerk.

15… Al wat nou saak maak, is dat jy ’n splinternuwe mens is; ’n splinternuwe skepping. Almal wat volgens Christus se nuwe reëls leef, is nou deel van die nuwe Israel.

En tog – as ek so na my eie lewe kyk, sien ek dat die ou tjor maar te gereeld sy opwagting maak. Dis so asof my manier van leef terugspring na default wanneer daar iets in my pad kom staan. Met elke krisis gryp ek terug na my ou mens se manier van die ding doen en dis nie altyd ’n goeie prentjie nie.

Ek besef dat ek van my kant af ook iets moet doen. En ek weet ek moet meer tyd maak saam met God. Ek moet meer met my neus in die Bybel sit, want dis hier waar ek leer van die vuil en ou mens en hoe om klaar te maak daarmee. Met behulp van God se Woord kan ek die lelike en ou dinge afkap en uithaal en vervang met nuwes.

Daar in Klerksdorp raak ’n selgroep aan die gesels en dit begin lyk vir hulle of die Bybel werk soos ’n swembadpomp:

1.   Die swembad moet ge-backwash word, want in die somertyd is paddas geneig om in die pyp te klim. So raak ons ook ontslae van die paddas in ons lewens.

2.   Dan rinse ons die swembad om weer helder en skoon water te filtreer.  So maak ons ook ons liggame skoon om beter te funksioneer.

3.   Laastens sit ons die pomp op filter sodat die creepy die water kan skoon suig. Ons gebruik dan die Bybel om ons liggame skoon en op die regte pad te hou.

Mag dit waar wees van ons elkeen. Mag ons toelaat dat God se Woord ons help om skoon te kom. Mag ons die heeltyd onderdanig wees aan God se Gees in ons sodat Hy die parte kan ruil en ons weer soos ’n splinternuwe model kan lyk. Mag mense anders wees omdat ons op ’n nuwe manier leef en mag die Heilige Gees dit geniet om met ons onder die arm deur die wêreld se strate te ry!

Teks

Galasiërs 6:11-18

Om oor na te dink

Glo jy dat jy oorgedoen is?

Kan ander sien dat jy nuut is?

Bring jy genoeg tyd met God se Woord deur?

Gebed

Here, dankie dat U ons nuut gemaak het. Maar ter selftertyd moet ek bely dat my lewe nie altyd reg lyk nie. Soms kom die ou mens net eenvoudig te veel deur. Ek weet een van die hoofredes is dat ek nie genoeg tyd met U Woord deurbring om agter te kom hoe ’n nuwe mens se lewe moet lyk nie. Help my om gedissiplineerd elke dag ’n afspraak met U Woord te maak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek