God se Woord in vandag se woorde

Met die waarheid om die middel


Efesiërs  6:10-20

Die jaar wat ek aan die grens tydens my militêre diensplig was, was gelukkig in een van die stiller tye met baie min gevegte teen die vyand. Ek was egter nooit bang nie, want ek was die gunner van ’n ratel (’n gepantserde voertuig). Ons was reg vir die oorlog met die regte wapens en die regte beskermende voertuig.

Net so moet ’n mens reg wees vir die oorlog teen die duiwel. Ons moet die regte uitrusting aanhê om onsself te beskerm teen sy aanvalle. Paulus begin by die middel: 14die waarheid moet jy soos ’n belt om jou middel vasbind.

Die belt hou gewoonlik die hele wapenrusting op sy plek. Maak die belt los en alles begin wankel en uitmekaar val. Die belt wat ons wapenrusting moet vashou, is die waarheid.

Die waarheid is die beginpunt van alle dinge. As alles wat jy doen nie ’n toonbeeld is van die waarheid nie, is jou fondasies verkeerd gegooi en kan jy nooit ’n huis bou wat sterk genoeg is om te bly staan teen die elemente nie.

Loop altyd die reguit pad. Loop altyd die pad wat verlig is en bly ver weg van die donker paadjies. Hang eerstens die waarheid aan.

Wat is die waarheid? Jesus self gee die antwoord wanneer Hy sê: “Ek is die waarheid en die lewe en niemand kom na die Vader behalwe deur my nie!” Die oorlog waarvoor Paulus ons voorberei, gaan nie oor die wapenrusting nie. Dit gaan nie eers oor ons nie, maar dit gaan oor Jesus. Jesus is die een wat die eer kry.

Jesus sê egter ook dat Hy die hoeksteen is, dat Hy die fondament is. Daarom weet ons dat ons ons hele lewe en ook die geveg wat ons elke dag teen satan moet veg op Jesus moet bou, anders kan ons dit maar los. Sonder Jesus, wat die basis vorm van ons wapenrusting, val alles uitmekaar.

Dit is mooi om te hoor en die meeste van ons weet dat ons elke dag die belt van die waarheid van Jesus moet aansit, maar wat beteken dit? Hoe kry ons dit vandag en môre en die dag daarna reg?

Ons moet elke oggend, wanneer ons opstaan, weer die belofte aflê dat ons niks anders as die waarheid gaan aanhang en aanvang nie. As ons die heeltyd negatief is, voel ons later negatief en dan kan ander maar sê wat hulle wil, ons bly negatief. Dit is so.

Daarom moet ons eerder konsentreer op die positiewe en die waarheid. Jesus is die weg en die waarheid. Hy is die fondament van ons lewe. Dan sal ons positief opstaan en positief kan leef.

Maar meer nog. Ons moet in elke situasie waar ons besluite moet neem, hoe klein ook al, seker maak dat slegs die waarheid seëvier. As jy onseker is oor die situasie, onseker is oor jou besluit, los dit eerder. Hoor mooi wat hier gesê word. As jy ongemaklik is met wat aan die gang is, as jy in lang diskussies betrokke is om te bepaal of dit reg of verkeerd is, is die kans baie goed dat dit verkeerd is.

Ek sê weer, los dit dan eerder of gaan hoor by iemand anders wat op die kantlyn staan en wie jy kan vertrou. Doen die regte ding. Doen die eerlike ding. Doen die alles-bo-die-tafel ding. As die waarheid heers, sal jy dit dadelik weet en ervaar. Stem vir die waarheid. Jaag die waarheid na.

Maak seker dat die waarheid die fondament is van al jou besluite! Goed begin is half gewin.

Om oor na te dink

Waar is die grys areas in jou lewe?

Hoe kan jy dit regmaak?

Leef jy net vir die waarheid, die volle waarheid?

Gebed

Here, daar is so baie grys areas in die wêreld en dis so maklik om ingeslurp te word en net ’n stukkie van die waarheid te verdraai. Help ons tog om die waarheid soos ’n belt om ons heupe vas te maak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek