God se Woord in vandag se woorde

Met Hein se sight


Klik hier om na Sondag se preek van Gerjo Ben: Vergeet en vergewe op YouTube te kyk.

Klik hier om op ons YouTube Channel te subscribe.

Hindsight,
sê die mense, is mos altyd die beste insig, want nou het die ding al klaar gebeur en almal weet presies hoe en wat die uitkoms is. ’n Vriend van my sê altyd “Hein-sight” is die beste. Sy naam is natuurlik Hein.

Probeer jouself in die profete se voete plaas waar die Heilige Gees hulle oortuig het van die koms van Jesus. Dat Hy as Verlosser sou sterf, maar ook dat Hy sou opstaan. Hulle het egter nie geweet wanneer en waar dit sou gebeur nie.

11Die Gees van Christus wat in hulle was, het vooruit verkondig dat Christus moet ly en daarna verheerlik sal word, en hulle het probeer naspeur wat die tyd en die omstandighede sou wees wat die Gees bedoel het.

Ek is ook so. As ek weet daar is iets aan die kom, wil ek weet waar en wanneer en hoe en so. Ek sal aanhou soek, totdat ek dit kry. Ek sal elke klip en mat optel totdat ek by die groot nuus uitkom.

Ek onthou nog hoe ons met die kinders Geocaching gespeel het. Dit is ’n soort wêreldwye skattejag waar mense op soek is na caches, of versteekte “skatte” wat ander mense op plekke dwarsoor die wêreld versteek. Om daarby uit te kom, moet jy die Toep op jou foon aflaai en die skat wat naaste aan jou is, probeer opspoor deur middel van die aanwysings op die Toep.

Daar kry jy leidrade wat jou na die skat kan lei. Die skatte word gewoonlik weggesteek by besienswaardighede of mooi plekke in die natuur. Die “skat” is gewoonlik ’n baie klein geskenkie, soos bv. ’n sleutelhouertjie of ’n boekie of ’n hangertjie. As jy dit kry, moet jy natuurlik die skat vervang met ietsie anders.

Dit gaan natuurlik nie oor die “skat” nie, maar meer oor die opsporing van die skat. Daarmee saam sien jy nuwe plekke of leer jy iets geskiedkundig. En wanneer ons huiswaarts keer, gesels ons te lekker oor al die nuwe dinge wat ons geleer en gesien het.

Ek vermoed jy wat hier lees, het ook al die skat van Jesus ontdek. Ons hoef nie soos die profete te wonder wanneer en waar dit gebeur nie. Ons weet Jesus het meer as 2 000 jaar gelede aan ‘n kruis op Golgota gesterf.

Ons weet dat Hy die daaropvolgende Sondag uit die dood opgestaan het. Ons weet ook dat Hy 40 dae daarna opgevaar het na die hemel en dat dieselfde Gees wat met profete gewoel het, daar en dan aan almal wat in Hom glo, geskenk is.

Die vraag is: Wat doen ons met die voordeel wat ons bo die profete het? Wat doen ons met die hindsight? Dalk moet ons die lewensveranderende skat weer gaan opsoek. Ons ken dit, maar dalk moet ons dit net weer hardop sê en dit heeltemal deel maak van ons wese.

Ons het die skat van alle skatte gevind. Dit breek ’n nuwe wêreld vir ons oop. Dit verander ons status van verlore na geredde. In plaas van die hel, kry ons die hemel deur genade alleen.

Laat ons weer as mense met ’n groot skat in ons wese gaan lewe. Laat dit ons aanvuur om die wêreld anders te maak en laat ons die wonderlike nuus waaroor ons nie hoef te wonder nie, gaan uitblaker aan ander, sodat ander nie meer hoef te wonder nie, maar saam met ons kan leef met die wonderlike hindsight!

Teks
1 Petrus 1:10-12

Om oor na te dink
Wat doen jy met die hindsight?
Hoe verander dit jou manier van lewe?
Hoe kan ander dit sien?

Gebed
Vader, hoe sê mens dankie vir so ’n groot skat? Help my om só te leef dat ander kan sien watter groot verskil hierdie skat in my lewe gemaak het. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek