Met my vingers in my naam se slootjies
Soms voel dit vir my of niks in die wêreld meer vas is nie. Elke persoon wat agter ’n mikrofoon staan, dink hy of sy het die antwoord. Glo net dit. Doen net dit. Hoop net dit. Dan sal alles weer reg loop, maar net om die volgende draai hoor mens dat die persoon intussen die pad byster geraak het.
Of dit nou geloofsake of landsake of finansiële sake is, die somme maak nie altyd sin nie. Dan raak ek onrustig en slaap nie lekker nie. Die vrae is meer as die antwoorde. Soms ontstel dit my só dat ek visieloos rondstrompel met ’n swart wolk wat oor my hang. Ek wonder of dit soms met jou ook gebeur?
Wanneer ek my in sulke omstandighede betrap, weet ek dat ek my na God se Woord moet haas. Dan besef ek gou dat ek toegelaat het dat die wêreld se omstandighede my wese binnegedring het en dat ek toegelaat het dat dit my kop onderstebo laat hang.
Sonder om verskoning te maak wil ek sê dis menslik. Jy sien, die wêreld en baie van sy mense klap ons soms só hard dat ons mismoedig in die hoekie wil gaan wegkruip sonder om enige lig vir die toekoms raak te sien.
Hoe dan nou?
19Maar die fondament wat God self gelê het, kan niemand verskuif nie. Dit staan vas. Op die fondament staan geskryf: “Die Here ken almal wat Syne is,” en: “Elkeen wat openlik sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbly van alles wat verkeerd is.
God weet van my. God ken my. Ek is God se kind. Niemand kan dit van my wegneem nie. Selfs nie ekself nie. Maak nie saak wat in die wêreld aangaan nie. Maak nie saak hoeveel oorloë woed nie. Maak nie saak wat by die werk aangaan nie. Maak nie saak of die bank alles wil kom vat nie. Ek bly God se eiendom.
God se fondasie staan vas. Daar staan geskrywe dat God my ken. Ek en jy wat ja gesê het op God se roepstem, ons name is in die fondasie gegraveer en niks en niemand kan dit daar uitkrap nie.
Die winde van die wêreld kan ons maar woes rondruk. Die branders kan hoe hoog oor ons koppe woed. Ons lewensboodjie kan heen en weer ruk en dit kan vir ons voel of die einde naby is. Tog is ons geanker aan ’n soliede fondasie waarvan ons nooit, maar nooit losgeruk kan word nie.
God sal nie Sy eiendom los vir die wolwe nie. Jy sien, God se liefde vir ons is eenvoudig te groot. Ja, ek weet uit ondervinding dat ons soms oorrompel word deur omstandighede en dat dit vir ons voel asof ons tot in die diepste dieptes sink. Dit is juis in sulke omstandighede wanneer ons ons hand oor die fondament wat God gelê het, moet laat gly sodat ons vingers in die slootjies van ons name speel.
Dan sal ons weer hoop kry. Dan sal ons weer vas glo. Nie in ons eie kragte en eie kennis en eie planne nie, maar aan die wete dat ons name in God se fondament gegraveer is en dat Hy nie sal toelaat dat enige mag of krag ons ooit uit Sy hand ruk nie.
Mag dit vir ons vrede gee. Mag dit vir ons krag gee om weer op te staan en voort te beur.
God ken jou en sal jou altyd beskerm!
Teks
2 Tim 2:14-19
Om oor na te dink
Waar druk dit?
Is God deel van jou fondasie?
Is jy bereid om weg te bly van alles wat verkeerd is?
Gebed
Vader, ek het hierdie boodskap so nodig. Dit gaan nie goed met my nie en ja, soms voel dit vir my of alles net te veel word. Dankie vir die bevestiging dat ek in my hart kan weet dat U my baie liefhet. Dankie dat ek kan weet dat U U hand oor my hou. Amen.