God se Woord in vandag se woorde

Met selfvertroue en vrymoedigheid op pad


Die sonde wat Adam en Eva gedoen het, het verreikende gevolge vir al die nageslagte gehad. Hulle besluit om na die duiwel te luister het ’n heining tussen die mens en God opgerig. Die mense was bang vir God. Die heining het gemaak dat God vir gewone mense ontoereikend was.

Gelukkig het God ’n plan gehad. Sy plan was Jesus: 11Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit.

Jesus was die middelpunt van die plan. Jesus was die antwoord wat die verhouding wat die mens kom opfoeter het weer sou kom regmaak. Jesus was die Een wat die draad wat sonde kom oprig het, kom plattrap en afbreek. Jesus was die toegang tot God: 12Omdat ons Jesus s’n is en op Hom vertrou, hoef ons nou nie meer bang te wees om na God toe te gaan nie. Ons kan dit vol vertroue doen sonder om te wonder of ons mag.

Waar die mense in die verlede bang was vir God, het Jesus se dood aan die kruis die verhouding weer herstel tot die oorspronklike. God se plan het gewerk. God was weer binne bereik van die mens.

Ek vermoed ons besef nie altyd dat die deur na God oopstaan nie. So baie keer probeer ons op ons eie probleme in ons lewe hanteer, sonder om met God daaroor te praat. Die gevolge is dikwels katastrofies. Ons leef ons lewe op die ou manier waar God untouchable is. Weens die hoop verkeerde dinge wat ons gedoen het, is ons skaam of dalk bang om na God te draai. Ons kruip weg en rig as te ware self weer die heining tussen ons en God op.

Dis verkeerd om dit te doen. Jesus het klaar die heining kom afbreek. Van God se kant bestaan daar nie meer ’n heining nie. Inteendeel! Hy sit en wag vir ons om na Hom te kom. Hy wil ons so graag bystaan in ons alledaagse lewe. Hy wil ons help. Hy sit met al die kennis en wil ons graag raad gee om die regte besluite by die kruispaaie van ons lewe te maak.

Die oorspronklike vertaling sê dat ons deur genade met selfvertroue en vrymoedigheid na God kan gaan. Hoor jy mooi wat hier gesê word? Ons kan regop, haastig, vry en moedig na God stap. Dit is een van die voordele wat ons as kinders van God het. God sit op die troon en wag dat ons dit moet doen. Die toegang na God is klaar betaal. Ons moet net opstaan en na Hom toe gaan.

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar. Die lewe is woes daar buite. Daar is so baie dinge wat nie loop soos ons wil hê dit moet loop nie. Daar is soveel keuses wat ons moet maak – elke dag van ons lewe en eintlik is ons nie opgewasse om al die keuses alleen te neem nie. Ons kan nie die groter prentjie sien nie. Dalk lyk die besluit nou vir ons na die beste een, maar tog weet ons nie wat die langtermyn impak gaan wees nie. Ons het iemand nodig om ons hiermee te help. Iemand wat oor al die kennis besit.

God besit oor al die kennis. Hy wil ons help.

Dit is ’n baie groot belofte vir ons elkeen. Dit bring ’n hoop bemoediging. Nou is die uitdaging daar dat ons sal opstaan en na God sal gaan. Met selfvertroue en vrymoedigheid en rug regop kan ons na ons Vader gaan en Hy sal ons help. Hy sal ons gedagtes rig, Hy sal ons help om die regte deure oop te maak. Jesus het dit vir ons reggekry.

Dis alles genade. Kom ons leef vandag presies so!

Teks:

Efesiërs 3:1-13

Om oor na te dink

Glo jy dat Jesus die heining afgebreek het?

Leef jy so ’n lewe?

Leef jy met selfvertroue en vrymoedigheid?

Gebed

Dankie vir die belofte, Vader. Dankie dat Jesus die heining wat die sonde tussen ons kom oprig het, afgebreek het. Dankie dat die deur na U oopstaan en dat ons met vrymoedigheid en selfvertroue na U kan gaan. Enige tyd. Help ons dat ons so sal maak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek