God se Woord in vandag se woorde

Moed om weer op te staan


Ek kry ’n e-pos van ’n vrou wat vir dringende gebed vra. Haar man is ’n jaar terug ’n pos in die Kaap aangebied en hulle het sak en pak getrek. Sy kon nie ’n verplasing kry nie en moes bedank. Na die uitstuur van tientalle CV’s het sy nou nog nie ’n werk nie.

Nou het haar man ’n brief ontvang dat 26 van die werknemers afgelê gaan word en dat hy een is wat sy tassies aan die einde van die maand moet pak. So, wat nou?

Ek word genooi om die volgende oggend die Bybelstudie te lei vir die personeel en omroepers van Namibiese radiostasie, Kanaal 7. Ek berei mooi voor, maar eers sê elkeen net vinnig hoe dit gaan.

Die stories is nie mooi nie. êrens kry almal swaar. Covid is die grootste boosdoener. Almal ken iemand wat al dood is van die virus.

Ek besef dat my voorbereide boodskap nie die regte een is nie en soos wat elkeen se rou storie via die skerm gehoor word, verander my boodskap na hoe God nou hier in die nood betrokke is by ons.

God weet presies waardeur ons gaan. Sy hart huil traan vir traan vir die seer waardeur ons gaan. Hy self stort hoeveel trane vir elke mens wat deur die virus gesteel word, wat nie by Hom gaan opdaag nie.

Jesus weet presies waardeur ons gaan, want in Sy tyd hier op aarde het Hy ook slegte ervarings gehad. Baie slegte ervarings. 2… Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Die pyn, as Hy geslaan is dat die bloed loop. Die seer wat Hy in die trane van Sy moeder en volgelinge gesien het. Elke emosie het Hy deurgemaak en aan Sy lyf gevoel.

Hoe kon Hy dit uithou? Hoe kon Hy aanhou en deurdruk, selfs deur die dood? 2 Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag. Kyk nou net, nou sit Hy op die ereplek by God in die hemel.

Ons moet dit by Jesus leer. Omdat Jesus geweet het waarheen Hy op pad is, omdat Hy die prentjie van die einde van Sy loop hier op aarde in Sy geestesoog dopgehou het, kon Hy uithou. Hy het geweet God wag vir Hom en dat dit ’n fees sal wees, daarom kon Hy deurdruk.

Hieraan moet ons ook dink. Daar is ’n beter seisoen wat op ons wag. Dalk nie nou hier op aarde nie, maar vir seker as ons die aarde verlaat. Dit moet ons motivering wees. Dié prentjie moet ons krag gee om deur hierdie moeilike tyd te beur.

Wanneer ons die heeltyd aan Jesus dink en wat Hy moes deurmaak, het ons weer krag om self op te staan. Dan het ons weer moed en kan ons weer probeer. Hier is die belofte:

3Hou Hom gedurig in gedagte. Dink aan alles wat Hy moes deurmaak, ja, aan al die slegte dinge wat die sondige mense aan Hom gedoen het. As julle Sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie.

Teks
Hebreërs 12:1-3

Om oor na te dink
Watter uitdagings lê voor jou deur?
Hoe moet jy dit hanteer?
Op wie is jou oë gerig?

Gebed
Here Jesus, U het deur vreeslike dinge gegaan en tog nie tou opgegooi nie. Trek my nader aan U en help my om ‘n helder prentjie van my toekoms saam met U in my geestesoë te kan sien, sodat ek ook kan uithou. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek