Moenie dof wees nie
Ek lê in my bed en ek hoor hoe iemand deur die venster klim. Dis nie lank nie of ek sien hom by die deur inkom. In die maanlig wat deur die venster skyn, blink sy AK-geweer.
My hart klop in my keel. Ek sien hoe hy die een kas na die ander saggies oopmaak. Ek sien dat hy al hoe meer ongeërg raak omdat hy nie iets waardevols kry nie. Hy soek ’n kluis.
Hy draai om en bestorm ons bed.
Ek lê met die alarm se afstandbeheer in my hand. As ek dit druk, sal die sekuriteitswag wat net om die draai is, binne ’n sekonde by ons wees. Maar ek druk dit nie.
Ek wil eers sien wie se kant gaan die dief eerste bestorm. Toe hy bo-op Renata is, beweeg my vinger nader aan die knoppie …
Nee, die storie is nie waar nie, maar as dit waar is, sou jy seker gesê het ek is lekker stupid! Jou kop raas! Ek moes al met die eerste gewaarslag van die inbreker die knoppie gedruk het, sodat die wag ons kon beskerm het.
Vir seker is dit die regte optrede. Maak so vinnig as moontlik geraas, kry versterkings in om jou lewe te beskerm. Om te lê en kyk wat gebeur, is baie onverantwoordelik.
Baie mense gaan net so onverantwoordelik met die Woord van God om. Baie mense gaan kerk toe. Baie mense lees die Bybel. Baie mense noem hulle selfs Christene, met ander woorde navolgers van Christus, maar in hulle manier van die lewe leef, sien ’n mens niks daarvan raak nie.
Jakobus vertel ook so ’n storie van ’n dowwe ou: 23Iemand wat net na God se woord luister sonder om te doen wat dit vra, is soos ’n man wat na homself in ’n spieël kyk. Hy sien daar hoe deurmekaar sy hare is. Hy draai dan om en stap weg sonder om sy hare te kam, omdat hy dadelik vergeet hoe deurmekaar sy hare is.
As jy die woorde van God hoor, as jy in die kerk sit en luister, as mense om jou presies vir jou verduidelik hoe dit in die lewe werk en jy doen dit nie, is jy maar aan die dowwe kant.
As jy in die spieël kyk en sien hoe deurmekaar jou hare is en jy stap uit om by die werk uitgelag te word oor jou deurmekaar hare, is jy dof. As jy op ’n bed lê, met die alarmknoppie en die dief kom in en jy druk nie die knoppie nie, val jy ook in die dowwe kategorie.
Hoe meer eenvoudig moet ons dit sê? Luister na die Woord van God en dan moet jy dit gaan doen. As jy dit nie doen nie, is jy dof. Verskoning vir die reguit woorde …
Teks
Jakobus 1:19-27
Om oor na te dink
Hoor jy God se woorde?
Luister jy na God se woorde?
Doen jy God se woorde?
Gebed
Ons Vader, ek hoor U woorde en ek luister na U woorde, maar ek moet bieg dat ek dit nie altyd so doen nie. Ek weet nie hoekom my voete ander kant toe trek nie. Help my asseblief om te doen soos U wil. In Jesus se Naam. Amen.