God se Woord in vandag se woorde

Moenie mors met Sola Gratia


In die Gereformeerde teologie staan die Sola Gratia sentraal: Ons word alleen deur die genade van God gered. Niks wat ek doen kan die hekke van die hemel vir my oopsluit nie. Die toegangskaartjies na die hemel word eintlik gratis op die hoeke van die straat uitgedeel. Die prys vir die kaartjies is reeds betaal. Ja, teen ’n bitterlike hoë koste: Die lewe van die Seun van God. God het die mens so jammer gekry waar hy baklei, struikel en val, elke keer net kort van die hekke, dat God toe bereid was om sy alles te gee. Die prys is betaal. Ons is vrygemaak van die bande waarmee sonde ons vasgebind het.

Baie mense sukkel met die feit dat Jesus alleen hierdie verlossing kon bewerk. Ons is nie gewoond daaraan om iets verniet te ontvang nie. Veral in ’n lewe waar daar elke dag menigte scams op jou selfoon of rekenaar inkom wat sê dat jy ’n paar miljoen geërf het by ’n Tannie wat jy nie eers ken nie. Ja, ons almal het al op een of ’n paar hiervan reageer, want sê nou net hierdie een is waar! Maar helaas, elke keer sien ons dat daar nie eintlik iets is soos ’n free lunch nie. Op ’n manier moet jy maar altyd werk of betaal. Wanneer ons elke dag met sulke dinge gekonfronteer word, is dit nie maklik om die verlossing wat Jesus bewerk het, sommer net so te aanvaar nie. Mens voel die heeltyd of jy iets moes gedoen het om dit te verdien.

Dit is vir my ook soms nog moeilik om te besef dat God se genade so groot is dat dit selfs ruimte het vir my met al my sonde. Máár wanneer ek besef wat Jesus vir my gedoen het, kán ek nie anders as om uit dankbaarheid aan die werk te spring en wél iets te doen nie. Dan wil ek volgens die wil van my Vader leef. Dan moet ek hard werk om elke keer weer op te staan as ek gestruikel het uit dankbaarheid vir wat Hy vir my gedoen het.

Maar nou moet ons pasop om nie met God se genade te mors nie. Dit is soos mense wat hulle huise verniet kry. Baie van hulle trek dit deur, sommer binne die eerste jaar. ’n Mens wil eintlik in trane uitbars om te sien hoe sleg die huisies na ’n kort rukkie lyk. Maar dit gebeur so as jy ’n ding verniet kry. Deur die swaar leer jy om jou goed te waardeer en op te pas. Kry jy dit egter verniet, verstaan jy nie eintlik hoeveel waarde dit het nie. Gelukkig is daar darem ’n paar wat die waarde besef en dit mooi oppas. Mooi tuine maak en sorg dat alles netjies is.

Net so kan ’n mens geneig wees om met die vryheid wat Jesus bring, te mors. Het jy ook al partymaal vir jouself gesê ek gaan gou die ou klein sondetjie deurlaat, want ek kan mos môre net sê ek is jammer? Dan mors jy met die Sola Gratia. Paulus waarsku ons: 13My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie.

Dadelik sal sommige van ons alles ontken en sê dat ons nooit so iets sal doen nie. Dit is seker so, maar daar is ander maniere wat ons ook met God se genade en die vryheid wat Hy vir ons gee, mors. In die tweede gedeelte van vers 13 hoor ons wanneer ons nie mors nie: 13… Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra. 

Nou kom ’n mens agter dat ons almal maar soms mors, want ons almal vergeet so nou en dan van hierdie liefdes ding. Dink maar terug aan die afgelope week, hoeveel maal was jy nie die minste nie, hoeveel maal het jy meer aan jouself gedink en nie die liefde van God uitgedeel na die mense om jou nie? Dis mors met God se verniet dinge!

Kom ons probeer om op te hou mors met God se vryheid en genade. Kom ons gaan soek vandag ’n plek waar ons Sy liefde kan gaan uitdeel. Wanneer ons verstaan wat God vir ons gedoen het, wil, moet, sal, gaan ons mekaar liefhê.

Teks

Galasiërs 5:13-26

Om oor na te dink

Mors jy soms met God se genade?

Waar kan jy liefde gaan uitdeel?

In jou huwelik, by jou familie, by die werk?

Gebed

Vader, U liefde vir ons het U alles gekos. U Seun het vir ons gesterf. Help my om elke dag bereid te wees om in myself te sterf en in gehoorsaamheid agter U aan te stap. Help my om U liefde vir my ook aan ander te bewys. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek