God se Woord in vandag se woorde

Moenie te houtgerus raak nie


1 Korintiërs 10:1-13

God se kinders het baie swaar gekry in Egipte. Hulle moes as slawe werk en hulle het nie hulle eie sê gehad nie. Hulle het tot God gebid en gesmeek om hulle te verlos van die swaar. En Hy het! Deur die een wonderwerk na die ander het Hy tot hulle hulp gekom. Die wonderwerke het nie opgehou nie. Dit was met wonderwerke dat Hy vir sy volk kos gegee het en Hy was self by hulle – óf in ’n wolkkolom óf in ’n vuurkolom.

God het regtig baie moeite gemaak met sy volk en al die stoppe uitgetrek om hulle uit die hande van die Egiptenare te red. Maar om een of ander rede was daar baie wat hulle eie koppe gevolg het en nie gedoen het wat God wou hê nie. 5… God was nie tevrede met die manier waarop die meeste van hulle geleef het nie. Daarom is hulle in die woestyn dood sonder om in die Beloofde Land in te gaan.

Ek verstaan nie die klomp Israeliete nie. Hulle het dag en nag by God gesanik en gesmeek dat Hy hulle moet verlos. En dit is presies wat Hy gedoen het, maar hulle draai hulle rug op Hom. Hulle besluit om eerder afgode te bou. Hoe dom kan ’n mens dan nou wees! Hulle besef nie dat hulle nie met die Almagtige God van die heelal moet mors nie en baie van hulle sterf net daar. Op een dag sterf 23 000 mense.

Paulus sê dat ons hieruit moet leer. Ons moet weet dat ons nie met God moet mors nie. God is nie ons maat nie. 9Ons moet nie kyk hoe ver ons Christus kan tart voordat Hy sy geduld met ons verloor nie… Is dit verkeerd om te sê dat God se genade ook êrens opraak? Ja, seker. Maar ons moenie met God se genade mors nie. Jesus het duur betaal aan die kruis. Hy het met sy lewe betaal. God sal nie toelaat dat daar met sy Seun gemors word nie. Moenie so baie waag en te vêr gaan nie.

Hierdie is ’n groot billboard met ’n waarskuwing op:  12Wees daarom geestelik wakker. As jy gerus begin word en dink dat niks jou geestelik van stryk kan bring nie, val jy miskien juis in die kloue van versoekings en sonde. Nou praat ek nie van buitengewone versoekings nie. Ek is seker daarvan dat die volk van God nie opsetlik plekke gaan soek het om oor die grense te gaan nie. Op ’n manier het hulle gewoond geraak aan die manier waarop hulle lewe en nie besef dat hulle besig is om teen God op te tree nie. Versoekings het by die agterdeur ingeglip en sonder dat hulle dit besef, het dit hulle al hoe vêrder weg van God gesmokkel. Versoekings vra nie toestemming om in te glip nie. As ons weer sien, het sonde sy intrek in ons lewe kom neem.

Net so moet ons weet dat ons elke dag in versoekings gelei kan word. Om elke hoek en draai gaan daar ’n versoeking lê wat ons gaan probeer mislei en ons moet pasop, want die versoeking is gekamoefleer. Dit lyk nie soos ’n versoeking nie, maar as ons mooi gaan kyk, sal ons sien dat die mooi onskuldige pakkie eintlik net een doel het en dit is om ons weg te lok van God. Die meeste van die kere kom steel dit ons tyd en ons kom nie meer by God uit nie.

Wees op jou hoede. Maak erns met die waarskuwing en gaan soek die dinge wat jou tyd met God steel. Maak seker dat jy in die regte rigting op pad is. Wees wakker vir die versoekings. Vra eenvoudig of dit jou nader na God of weg van Hom neem. Gaan staan stil in jou bedrywige lewe. Vra die Heilige Gees om jou te help om te onderskei en ontslae te raak van die dinge wat jou weglok van God.

Mag God tog tevrede wees met ons lewe. Mag ons wakker wees en die versoekings systap. Mag ons so ander help om ook op hulle hoede te wees. Mag ons mekaar se hande vat en opstaan teen die versoekings van die lewe.

Om oor na te dink

Waar kom versoekings by jou deur ingewaai?

Is daar plekke waar jy naby God se grense vir jou lewe speel?

Is jy sensitief genoeg vir die leiding van die Gees?

Gebed

Here, soms kom die versoekings so vinnig aangerol en dan is dit nie altyd maklik om te koes of weg te draai nie. Partymaal is dit net te maklik om te gly. Ek wil nie val nie, Here. Daarom vra ek dat U my sal help om staande te bly teen die versoekings en dat ek te alle tye binne U wil sal lewe. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek