God se Woord in vandag se woorde

My bid is op


Klik hier om na Sondag se preek van Gerjo Ben: Watter grond lê in jou hart? op YouTube te kyk. 

Klik hier om op ons YouTube Channel te subscribe.

Ons vertel al hierdie mooi stories van gebed. Elia bid sommer vir die reën om op te hou: 17Elia is ’n goeie voorbeeld daarvan. Hy was maar ’n mens net soos ons. Hy het God egter mooi en ernstig gevra dat dit nie moes reën nie. Drie en ’n half jaar lank het die reën toe heeltemal weggebly. 18Toe bid hy weer en toe begin dit reën. Dit het soveel gereën dat alles weer grasgroen en pragtig was.

En as ek so terugkyk oor my eie lewe, het dit vir my gevoel dat my gebede nie veel verder trek as die plafon nie. Soms raak die moed net op. Soms raak die petrol net op om nog ’n keer te probeer bid.

Soos Martin (skuilnaam) s’n:

Ek lê nou juis hier in my bed met ‘n koppie boeretroos en dink: “Maar dis mos nie my werk om die boeke te laat klop nie, ek moet maar net die pen vashou. God doen die res.”

Maar ek moet bieg, die laaste paar weke het my geloof gewankel, wel, meer as gewankel. Ek het ophou bid, ja ek is moeg. Moeg gelewe, moeg gebid, moeg ge-alles.

Die jaar het sy tol geëis, Bybel lees elke oggend en elke aand, dit is nie opsioneel nie, maar bid? Ek weet nie meer wat om te bid nie.

Die rumours by die werk van Besigheid het I.T. gemerk as: ‘NEEDS IMPROVEMENT’ en die reperkussies daarvan is dat daar geen verhoging, geen bonus is nie en Vrydag kom die gatslag: ons mediese fonds toelaag val weg. Almal 55 jaar en ouer kry briewe met patetiese pakkette en word gevra om  te gaan.

Dit vreet aan my. Dit vreet kwaai.  En net daar vanoggend slaan dit my op die voorkop, net voor ek kon Bybel lees: dis nie my werk om die boeke te laat klop nie, God sal voorsien, HY het nog altyd.

Dis net, die deel pla my, ek weet nie meer wat om te bid nie, my gô is letterlik uitgebid. Almal vir het seker darem ‘n ietsie om voor te bid. My bid is op. Ek weet nie meer wat om vir God te bid nie. Dankie sê, ja, dit doen ek. Maar my “vra” is stukkend gebid.

Kos en klere en genade het ons genoeg, maar ek kort baie op die liefde se kant, God se liefde. Ek kort die drukkie en die vashou en die “alles sal Ok wees”…

Ja, dis aardse goeters, maar die sukkel om by die Here uit te kom, die eet aan my, ek voel of ek afgedraai het en ek nie terug kan kom nie, want ek weet nie hoe nie. Ek weet nie wat om te bid nie.

My bid is op.

Sjoe, my hart kry seer vir Martin, maar ek sien foto’s uit my verlede wat my bid ook op was. Dis sulke tyd wat jy maar net moet aanhou bid en glo soos Elia. Dan moet ’n mens net daar by God se voete sit en sê: “My bid is op. Ja, my bid is nou heeltemal op.”

Teks
Jakobus 5:13-20

Om oor na te dink
Hoe vêr trek jou gebed?
Is jou gebed ook op?
Bid jy dan nog verder?

Gebed
Vader, soms is my gebed ook op. Soms weet ek nie wat om te sê nie. Hoor my gebruikte woorde. Op ’n manier bly ek glo. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek