God se Woord in vandag se woorde

My kragbron


(Vir die van julle wat die uitnodiging na die boekbekendstelling in Stellenbosch en Pretoria gemis het, sien advertensie onder en onthou om te RSVP by www.kruispad.com/RSVP. 50% van plekke is reeds bespreek.)

In die vorige gedeelte het ons gehoor dat ons, soos Paulus, alles moet insit om te help met die uitdra van die evangelie. Soos ’n atleet alles insit om sy resies te wen, moet ons ook al ons energie insit om daar waar ons gaan ’n verskil te maak.

Die vraag is: Hoe kry ons dit reg? Selfs Paulus kan dit nie op sy eie maak nie. Sy krag is te min. Daarom erken hy eerlik: 29… Die krag om dit te doen kom van Jesus af.

Op ons eie kan ons nie die wêreld met kaal hande aanvat nie. Daarvoor is ons te lig in die broek. As ons dit op ons eie probeer doen, sal die wêreld ons oorrompel en ons in ’n mismoedige hopie opfrommel. Ons sal gou stoom verloor en die handdoek ingooi. Dit is belangrik dat ons dit besef voordat ons ons vingers brand en die Koninkryk skade aandoen.

Ons het ’n eksterne kragbron nodig waar ons krag kan ontvang om die wêreld in te gaan om die evangelie aan ander te bring. Dié kragbron is Jesus. Dit is soos sommige van die nuwe selfone. Jy hoef hulle nie meer met ’n draad in te prop om te laai nie. Nee, die foon word net op die herlaaier neergesit en so deur die omhulsel gelaai. Merkwaardig hoe die tegnologie verbeter.

Nét so moet ons ook in die teenwoordigheid van Jesus wees om gelaai te word om die wêreld in te gaan. En ek besef dat die verkeerde keuses wat ek deur die dag maak, juis sy oorsprong hier het. Ek sit nie lank genoeg stil by my Herlaaier om genoeg krag te ontvang om deur die dag te kom nie. As ek nie genoeg tyd by God deurbring nie, ontvang ek nie genoeg krag vir die dag nie en die gevolg is dat ek makliker verkeerde keuses maak.

Dalk is dit nie vir jou nuwe nuus nie. Ons wat kinders van God is, weet dat Jesus ons kragbron is en dat ons genoeg tyd moet maak om by Hom herlaai te word. En tog doen ons dit nie. Ons besige lewens kry sekerlik die skuld hiervoor.

Dan moet ons teruggaan na die tekenbord. Ons moet ons dagboek neem en die inskrywings verander. Ons moet heel eerste ’n afspraak met Jesus maak en die res van die dag rondom dit beplan. Skryf: Herlaaityd – of so iets – sodat jy weet dat dit die tyd is wanneer jy die krag ontvang om die res van die dag te kan ingaan. As jy nie tyd hiervoor maak nie, sal jou batterye pap wees en die kans dat jy amok gaan saai, is baie groot.

Daar word vertel dat Martin Luther se sekretaris eendag vir hom gesê het dat hy sy stiltetyd moet verkort, want hy gaan nie andersins deur al sy afsprake van die dag kom nie. Martin Luther het toe gesê: “Nee, dan moet ek juis langer in stiltetyd verkeer om deur die dag se afsprake te kom!” Hy het die herlaai besigheid gesnap.

Sy bekende quote: “I have so much to do that I shall spend the first three hours in prayer.”

Mag dit waar word van ons elkeen. Mag ons presies weet waar ons krag vandaan kom en mag ons elke dag genoeg tyd daarvoor opsy sit.

Skrifgedeelte

Kolossense 1:28-29

Om oor na te dink

Hoeveel tyd bestee jy by Jesus?

Wat kan jy doen om meer tyd in gebed deur te bring?

Maak nou die afspraak.

Gebed

Here, ek weet dat ek my krag van U ontvang. Ek weet dat ek slegs in ’n intieme verhouding met U kan leer hoe om die lewe te leef. Ek neem nou weer ’n besluit om meer tyd met U deur te bring. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek