’n Aangrypende storie oor kwaad gaan slaap en so…
(Vir die video waarna daar in die vorige stuk, “Eers ‘n krummel dan ‘n koekie,” verwys is, kliek hier.)
Na aanleiding van “Kokende bloed maak liefde koud“, kry ek die aangrypende epos uit die Namakwaland. Maak ’n koppie koffie of tee en gee jou self genoeg tyd om dit te lees. Dit het my hart aangegryp en ja, ek het weereens so baie geleer.
“Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie.”
Oor hierdie dertien woordjies kan ek boekdele skryf, nie omdat ek dink ek kan of hou van skryf nie, maar omdat ek weet wat dit is om nie kwaad te gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie.
‘n Bitter en seer ondervinding wat my vir die res van my leeftyd twee keer sal laat dink. Ek het pas my 15de lewensjaar gevier, ’n onkundige jong meisiemens, die wegloopkind. My Pa was streng maar ’n liewe mens, geliefd in die gemeenskap, geliefd in die kerk. My Pa het een reël gehad wat glad nie vir my aanvaarbaar was nie en volgens my ook onredelik was… ek moes saans onder sy dak slaap.
Een aand klim die waaghals weer uit my lyf en beraam ek en ’n vriendin ’n baie “slim” plan sodat ek saam met haar by haar oupa en ouma se huis kon oorslaap. Ons “slim” plan het soos hulle sê geboemerang en my Pa moes my laataand by die vriendin se oupa en ouma se huis gaan haal.
My Pa was kwaad! Ek was BAIE kwaad! Die hele pad huis toe, wat nie vreeslik ver was nie, het ek vir my Pa, na wie ek my vandag dood verlang, vertel hoe onregverdig hy is, hoe baie ek hom haat, hoe ek wens ek het nooit ’n pa gehad nie… en seker nog baie meer lelike dinge wat glad nie nodig was om uit my mond te kom nie… woorde wat hy beslis nie verdien het nie.
My liewe kosbare Pa het nie veel gesê nie. Ek kan glad nie onthou nie, ek is doodseker hy sou my wel verseker het van sy liefde vir my, maar ek was heeltemal te kwaad om enige iets te hoor. Dalk het ek wel gehoor, maar nie geluister nie. Ek het kwaad gaan slaap.
Ek het gedink ek droom toe ek my Ma se angswekkende gille van die agterste kamer hoor. My ouer sussie het agter my in my bed kom inkruip en gesê ons moet bid want Pappa het ’n hartaanval gehad. Die loeiende sirenes van die ambulans het tussen my en my kinderlike gebede kom inwurm en niks het sin gemaak nie.
Ek het my beste probeer om weer te slaap sodat alles soos voorheen kon wees en dat ek kon glo dat alles onwaar en net ‘n wrede droom was. Dit was nie ’n droom nie.
Ek moes binne, wat gevoel het soos enkele minute, by my sussie hoor “Pappa is dood”.
En ek, ek het kwaad gaan slaap en kon nooit jammer sê nie.
Hiermee ’n briefie wat ek verlede jaar Oktober vir my Pa geskryf het.
“Liewe Pappa, Pappie, Pa… 31 jaar is lank… ek kan glad nie onthou hoe ek Pa aangespreek het nie…
Vandag is ek lus om met Pa te praat, sommer net oor alles wat ons nooit kans gehad het om oor te praat nie. Nie omdat ons nie wou praat nie, maar omdat die lewe ons ’n wrede streep getrek het voor ons al daardie praat en al die ander dinge wat ’n pa en dogter saam moet doen, gedoen kon kry.
Ek dink nie mens kan alles in die hemel sien wat hier op aarde gebeur nie, want anders sou Pa hartseer, bekommerd en soms seker ook teleurgesteld gewees het oor wat Pa se kinders (veral hierdie swartskapie) hier op aarde aanvang, en soos ons almal al gelees het in die Groot Boek van die Lewe… in die hemel is daar net vreugde en blydskap en geen bekommernisse nie, so dis seker beter so.
Briewe sal Pa ook nie kan ontvang of lees nie maar ek wil nogtans graag vir Pa vertel wat in my hart en lewe aangaan. Pa sou verstaan.
Ek kyk na foto’s van myself en al spot ek soms en sê ek is aangeneem of omgeruil in die hospitaal, sien ek myself in pa. Ons kyk is die eerste wat my opval, ’n kyk wat sê ons sal dit maak, ons sal ons nie laat onderkry nie, maar tog ’n kyk wat met deernis kyk en sê dat ons, ons naaste liefhet en omgee en verstaan. So ja, ek is beslis Pa se kind.
Pa, ek het ’n pragtige lang, skraal seun. Pa sou so trots gewees het op hom want hy het Pa se mooi sangstem vir hom gevat en sy eie gemaak. Ek wens Pa kon my help om hom groot te maak, want daar het die lewe my weereens ’n harde hou kom slaan, alles my eie skuld en ek mag daarom nie kla nie.
Sy eie pa wou hom en my nooit hê nie en ons twee moes vanaf sy eerste skree alleen die paadjie stap. Vandag kyk ek met trots terug, maar ek sou met Pa se hulp beslis beter kon doen. My mooiste groenoog seun is besig om hard te leer terwyl ek hier skryf.
Ek weet hy wou ook graag rugby en krieket speel en motorfiets ry soos ander seuns maar daar was nie ’n pa wat sy hand kon vat en hom die bietjie aanmoediging gee wat nodig was nie. As ma het ek probeer, maar ek bly ’n vrou en mansmensdinge is steeds vir my so bietjie vreemd. Nogtans weet ek sonder al hierdie dinge waarop hy uitgemis het, sal hy ons familienaam met trots vorentoe dra.
Die lewe het my ’n tweede kans gegee en ek het lief geword vir iemand, Pa. Met sy groot sterk hande en baie liefde het hy een jaar gelede my hele hart vir hom kom vat. Ek glo Pa sou ook van hom hou. Die beste van alles is dat ek nou so bietjie meer van rugby verstaan. Al is my vrae seker bietjie dom en al skree en stem ek soms vir die verkeerde span, is hy meer as geduldig met my.
Pa, ek is lief vir hom… hy laat my lag, hy maak my gelukkig, hy probeer my verstaan en hy pas my op en die grootste bonus is seker dat hy beslis maar mag braai. Ek onthou kleindag se Saterdagaande om die braaivleisvuur buite ons huis. Dit en die waatlemoen-eet-dae is soos gister in my geheue afge-ets. Ek mis dit Pa. Ek mis ook my pophuis en my geelperskeboom waarin ek vir ure kon sit en sing asof niks in die wêreld my pla nie.
Jammer dat ek nie altyd ’n modeldogter was nie, jammer dat ek so lelik en ongehoorsaam was die laaste aand van Pa se lewe hier saam met ons, jammer vir so baie wat ek verkeerd gedoen het. Dankie dat Pa my vergewe het, dankie dat Pa my met Pa se hele hart liefgehad het, dankie dat Pa my net die beste gegee het en dankie vir die beste huis en opvoeding denkbaar. Ek IS lief vir Pa.
Môre is Pa se verjaardag en ek wonder of die engele vandag nog betyds die 80 kersies bymekaar sal kan maak. Ek sal gaan kyk as die maan en die sterre gesig begin wys of daar dalk ’n ekstra vlammetjie iewers in die hemelruim sy opwagting maak. Miskien sal ek te hartseer wees om môre te skryf, daarom sê ek vandag sommer al geluk en ek sal beslis ’n glasie op Pa skink. Miskien sal ek sommer saggies ’n verjaarsdagliedjie vir Pa sing. Miskien sal ek koek bak en terugdink aan hoe Pa in Pa se kort lewe alles voluit geniet het. Miskien, net miskien, sal die briefie daarbo by Pa in die hemel uitkom.
Nou ja, my liefste Pappa, Pappie, Pa… ek groet vir eers maar sal altyd met ’n hart vol liefde na Pa verlang.
Sjoe…!
Teks:
Gebed
O God, Mag U ons hand kom vat… Amen