‘n Aangrypende verhaal – ‘n moet lees!
Vandag lees ons nie uit God se Woord nie. Ons lees eerder sy kinders se leef (of juis nie leef) van sy Woord. ’n Aangrypende artikel (in Rapport) van Sonja Loots: Was almal maar siende soos die blinde kinders van Athlone.
Hierdie rubriek is vir Nontyatyambo, Olwethu en Slindokuhle. Vir Anesipho, Lutho, Gadija en al die ander jong kinders van die Athlone-skool vir Blindes wat ek verlede week vlugtig leer ken het.
Terwyl die koerantopskrifte meedoënloos oor haat en onverdraagsaamheid bly berig het, was julle ’n mooi voorbeeld van ’n heel ander manier van doen.
Ek het gesien hoe julle heeltyd aan mekaar raak: om gerusstelling te kry, maar ook om dit te géé.
Ek het my verwonder aan hoe goed julle luister en hoe fyn julle op mekaar se behoeftes en emosies ingestel is.
Dit is julle wat my hoop gee.
Ek wens almal in die land kon so goed na mekaar kyk soos wat julle dit onderling doen. Kon ons almal maar vreemdelinge met soveel vertroue verwelkom soos wat julle met my gedoen het, sommer net omdat ek saam met die tromspeler was wat vir julle ’n werksessie kom aanbied het.
Hierdie rubriek is ook vir Mandy, Sandy en Randy. Of wat jul name ook al is. Die drie Stellenbosse studente wat Donderdag oor die middaguur op die kroeg Bohemia se stoep sit en kuier het – julle wat jul leë geselsies nie één oomblik lank onderbreek het toe ’n bejaarde man reg langs julle op die sypaadjie neerval nie.
Julle, die drie voshaarnooiens met die Marlboros en die witwyn, so salig ontspanne in die son en so skrikwekkend onmedemenslik.
Dit is julle wat my laat wanhoop.
Hierdie rubriek is vir myself, wat uit verbasing oor jul stiksienigheid nagelaat het om julle na behore uit te trap, julle mistroostige klein flerries.
Dit is ek wat nogmaals daaraan herinner is dat wreedheid en ’n totale gebrek aan empatie in hierdie land onvoorspelbaar is en vele gesigte het. Wat geskrik het oor jong mense wat so sekuur in die spore van vorige generasies se misstappe trap.
Hierdie rubriek is vir die verslete, maar deftige ou man wat gedisoriënteerd regop gekom en floutjies na ’n werker oorkant die straat om hulp gewink het.
Eerder na ’n werker wat oorkant die straat swetend kratte bier van ’n vragmotor laai as na die ledige, blanke brokkies wat skaars ’n armbreedte van hom gesit en drink het, omdat hy instinktief geweet het waar sy hulp nié vandaan sou kom nie.
Meneer, dit is daardie gebaar van jou wat my hart breek.
Hierdie rubriek is terloops ook vir die uitasem en haastige werker wat alles gelos en nader gedraf het om vinnig hand by te sit. Dit troos effens.
Maar bowenal is dit vir die krom oupa wat my té hartlik bedank het omdat ook ek doodgewoon nader gestap en hom regop gehelp het. Wat, toe ek die kosblik waarin sy vrou ’n toebroodjie gepak het van die grond af optel en aangee, vir my vertel het dat hy griep het en dus koorsig en duiselig is. Dit is vir hom omdat hy my toe “madam” genoem het.
Meneer, dit is daardie woord wat my skaam maak.
So skaam dat ek nooit eens jou naam gevra het nie. Ek hoop jy voel beter.
(Sonja gee klas by die Universiteit van Kaapstad en is ook die skrywer van die bekroonde romans Spoor en Sirkusboere.)
Om oor na te dink
Is jy soos die blindes?
Die studente?
Die werker?
Gebed
Here, O God! Mag ek nooit verby nood stap nie. Mag ek kyk met U oë! Amen