’n Bak met ’n doel
Ek wil graag Mari (skuilnaam) se storie met jou deel:
Ek het altyd gedink ek is simpel omdat ek so emosioneel is oor ander mense. Iemand lyk net of hy hartseer is of swaar kry, dan huil ek daaroor. Dis dikwels ‘n groot verleentheid vir my.
Tot verlede jaar in die winter toe ek met ‘n skildklier probleem in die hospitaal beland en drie weke nie kon werk nie. EK het oor als gehuil en gedink om ‘n einde aan als te maak. Lafaard gewees. Min dinge trek ‘n vrou so plat soos hormone.
Ek het my Bybel naarstiglik begin lees, iets wat ek vir ‘n ruk nie gedoen het nie. En daar praat God met my deur Sy woord en maak my bewus van my doel op aarde; hoekom Hy my hier geplaas het en dit is om vir mense om te gee en te luister.
Terwyl ek luister, vra ek binnekant vir die Heer om my toe te rus met die regte antwoord of woorde vir die persoon. En telkens gebruik die Heer my so wonderlik dat ek self verbaas is oor wat ek terug gesels. God is SO GROOT!
Onlangs het ek die Inner Circle Life Journey kursus by die werk gedoen. Aan die einde van die kursus het ons elkeen die boekie Strength Finder gekry. Agterin die boekie is ‘n verseëlde koevert met ’n vorm wat jou help om jou gawes te ontdek.
Dalk wonder jy wat my 5 sterk punte was:
-
-
- Empathy – ability to sense someone’s emotions and eases person’s anxiety
- Developer – spontaneously tune into the emotions and needs of individuals
- Connectedness – strong communication talents
- Harmony – deference comes naturally for me
- Adaptability – spreek vanself nê?
-
Dit het my laat besef dat ek nie skaam hoef te wees oor my omgee en emosionele innerlike nie, want dis presies hoe God my gemaak het en daar is ‘n doel met my lewe – nou is my verleentheid my dankbaarheid dat ek is wie ek is.
Mari se storie is so ’n groot voorbeeld vir ons almal en kleur die vers so mooi in: 21… Dan sal hy (en sy) vir die eienaar afgesonder en bruikbaar wees, voorberei vir enige goeie diens. (1983-vertaling).
Mari het aanvanklik skaam gevoel oor haar trane, omdat dit volgens ander nie gepas was nie. Maar dit is juis deel van haar gawe – soos die kursus vir haar geleer het. Sy is ingestel op ander se emosies en gesels graag met hulle daaroor. God het aan haar die vaardighede gegee. Sy moes dit net raaksien en toelaat dat Hy deur haar werk.
So het God met ons elkeen gemaak. Hy het ons elkeen toegerus. Gereed om daar waar ons werk, woon en speel ’n verskil te maak. Die vraag is nou: Is jy gereed vir dit waarvoor God jou wil gebruik?
Teks
2 Tim 2:20-26
Om oor na te dink
Wat is jou gawe?
Is jy skaam daaroor?
Maak jou gawe ’n verskil waar jy gaan?
Gebed
Vader, dankie dat U ons elkeen uitgekies het om ’n bruikbare bak te wees. Ek moet bely dat my bak nie altyd gereed is om gebruik te word nie. Help my om dit skoon te kry. Help my om my gawes te ontdek en dit beskikbaar te stel vir die goeie werk wat U deur my wil doen. Amen.