’n Besluitnemingsvennoot
’n Jongman is in die moeilikheid. Hy het gesteel. Nie baie nie, net ’n R100 en nou is hy in die moeilikheid. Dis regtig ’n goeie seun met ’n oop gesig, maar om een of ander rede het sy kop met hom gesmokkel sodat hy die verkeerde keuse gemaak het.
Ek vra vir hom of hy dink dit is verkeerd om iemand se geld te vat sonder om toestemming daarvoor te vra. Hy sê dadelik ja. Ek besef gou dat hy presies weet wat reg en verkeerd is en waar die lyn tussen hulle twee lê. Ek vra hom hoe kon hy dan die geld geneem het as hy weet dit is verkeerd. Hy kan my nie ’n antwoord gee nie.
Êrens kry iets of iemand dit reg om met mense se koppe te smokkel dat hulle net blank slaan wanneer dit kom by besluite neem. Hy weet dit is verkeerd. Hy weet dat daar ernstige nagevolge kan wees as hy uitgevang word. Hy weet selfs dat hy die eienaar van die geld erg benadeel wat hy ook nie wou doen nie en tog neem hy steeds die verkeerde besluit.
Ek hoor van ’n werknemer wat verdink word van geldwassery. Sy word geskors en verdere ondersoek word ingestel. En wraggies: Dit is so. Betalings aan verskaffers word twee keer gedoen. Een keer aan hulle en die tweede keer in haar eie rekening. Groot bedrae is ter sprake.
Ek is seker daarvan dat die eerste bedrag wat sy geskuif het nie veel meer as ’n R100 was nie. Maar soos die tyd verloop, het die nulle meer geword. Verkeerde keuses keer op keer. Selfs die vrees om uitgevang te word of die vrees vir straf was eenvoudig te klein om haar te help met die regte keuse.
Elke dag staan ons voor ’n hoop keuses. Nie altyd tussen reg en verkeerd nie. Gewone keuses, soos hoe ons gaan reageer op iemand wat ons te nagekom het. Keuses oor ons toekoms. Keuses om binne God se wil te lewe. Die antwoorde is nie altyd eenvoudig nie.
Ons moet besef dat ons dit nie op ons eie gaan regkry nie. Die gesmokkel met ons kop druk ons in die verkeerde rigting. Paulus besef dit ook. Hy was presies ook daar. Hy weet ook dat die nuwe Christene van Kolosse ook gaan sukkel. Daarom bid hy: 9Vandat ons al hierdie dinge oor julle gehoor het, bid ons aanmekaar vir julle. Ons vra dat God vir julle al die kennis sal gee wat julle nodig het om reg te leef. Mag die Heilige Gees julle duidelik wys hoe julle moet leef.
God is die een wat die wysheid vir ons sal oopbreek. God weet presies wat ons moet doen. God kan oor die bult sien. Hy sien in die toekoms tot aan die einde. Daarom moet ons Hom die heeltyd deel maak van ons besluitnemingsproses. Hy moet ons vennoot wees. Die een by wie ons die finale stem kry om die besluit te neem. Dan sal dit altyd die regte een wees.
Deur die verkeerde besluite van die jongman en die werknemer het ek net weer besef dat ons makliker verkeerde besluite neem as die regtes. Ek het ook besef dat vrees vir gevolge nie genoeg is om ons te weerhou van verkeerde besluite neem. Ek besef ook dat ons ’n flaw het en soms onverstaanbaar optree.
Sonder God as ons vennoot in die besluitnemingsproses gaan ons nie altyd reg kies nie. Daarom is dit van kardinale belang dat ons daagliks met ons besluitnemingsvennoot in kontak bly sodat Hy ons kan help om met elke besluit die regte een te maak.
Skrifgedeelte
Kolossense 1:9-11
Om oor na te dink
Hoe lyk die gevolge van jou besluite?
Is daar besluite waarmee jy sukkel?
Vra jy God se hulp?
Gebed
Vader, dis een ding wat ek besef het: Ek is nie opgewasse om altyd die regte besluite te neem nie. Sommige is eenvoudig net te onduidelik. Daarom vra ek U weer om my met elke besluit by te staan. Help my om genoeg stil te staan om U stem te hoor. Amen.