‘n Boemelaar se storie van lig
Ek is 58 en my lewe het ’n skewe draai geloop. Alles my eie skuld.
Om weer onder te begin, is nie maklik nie, so ’n ou moet maar baie hare op jou tande hê om dit reg te kry, maar met God by jou is niks onmoontlik nie. My swak besluite het my twee-en-’n-halfjaar op straat laat beland, letterlik en nie a.g.v. drank of dwelms nie.
Een van die aande wat ek moes buite slaap, het dit só hard gereën soos met die vloed. Ek het nie komberse gehad nie. Ek was deurnat. Niemand wou help nie – nie die kerk nie – nie mense nie – nie eens my selgroep nie. Ek is nie eers ’n brood aangebied nie.
So het ek saam met die “boemies” gelewe. Dit wat ek daar gesien het, is hartverskeurend. Gelukkig het ek nie in daardie groef van drink “om alles te vergeet” geval nie.
Mense raak kwaad as hulle bedel om ’n “kannetjie” te kan koop, maar ’n dag raak lank as daar geen vooruitsig vir die dag is nie.
Op die oomblik het die kerk vir my ’n kamer gegee om in te bly. Ek bly al ses maande daar en is tans besig om my lewe met God reg te maak. Maar maklik is dit nie.
Op hierdie journey het ek geleer om dankbaar te wees vir my bed, komberse, ’n kussing en ’n dak oor my kop. Ons beskou dit as ’n “moet” en deel van die lewenspakket. Dankbaarheid is ’n woord wat ons nie verstaan nie.
Ek vermoed Andy ken die verskil tussen ’n lewe in die donker en ’n lewe in die lig.
13Wel, ons was eers in die donker mag van God se vyande vasgevang. God het ons egter uit hulle mag geruk.
En wanneer jy uit die donker na die lig stap, verander jy van jou diepste binneste tot by jou dade.
Andy stuur ’n week later weer ’n epos:
Ek kon gister vir iemand help om sy bakkie na Pretoria toe te ry. So het ek R600 verdien. Na twee-en-’n-halfjaar op straat is R600 soos R1-miljoen. As jy weet van iemand met wie dit beroerd gaan, kan ek R50 vir hulle oorbetaal. Vorentoe wil ek graag ’n bydrae maak aan almal van julle wat die Woord bedien.
Dis die gevolge van iemand wat in God se lig leef.
Skrifgedeelte
Om oor na te dink
Leef jy in die lig?
Hoe wys jy jou dankbaarheid?
Hoe lyk jou dade?
Gebed
Here, ek leer elke dag by ander. Ons word so maklik deur die god van die wêreld verblind dat ons nie die lig van die evangelie raaksien nie. Verlossing van die donker is moontlik vir elkeen wat daarna smag. Help ons om soos mense van die lig te leef en dat ons dade daarvan sal getuig. Amen.