’n Borsstuk van reg lewe na geluk
’n Vriend van my het ’n groot besigheid gehad. Ek het verbaas gestaan om te sien hoe sy besigheid van ’n klein eenmansaak uitgebrei het tot ’n groot organisasie waar honderde mense vir hom gewerk het. Ek kom eendag by hom en sien dat daar nie veel aangaan nie. Die lorries ry nie meer heen-en-weer nie. Die mense sit orals rond en daar is ’n doodse stilte. Niemand weet of hulle die volgende dag nog werk het nie.
Ek sit lank by hom. Hy gesels baie en stadig maar skielik slaan dit my teen die bors. Sy hele besigheid is gebou op kontrakte waar hy geld onder die tafel deurgestoot het. Elke kontrak het hy “gekoop”. Dis hoe dit werk in sy bedryf, het hy probeer verweer.
Dit was nie lank daarna nie, toe is hy onder.
Die 2de kledingstuk wat Paulus deur die tralies raaksien, is die borsstuk wat moet keer dat die pyle nie die soldaat moet raak nie. Dit is moeilik vir ’n soldaat om oorlog toe te gaan en die heeltyd vir sy paaltjies te moet keer. Hy sal niks uitgerig kry nie. Daarom word die borsstuk vir ons, die soldaat, bekendgestel. Trek 14… die borswapen van die geregtigheid aan. (1953-vertaling)
Weet jy dat die duiwel elke dag pyle en swaarde na jou kant toe skiet om jou hart te probeer binnedring? Wanneer ons die borsstuk van reg en geregtigheid aantrek, kan die pyle wat ons van die pad af wil dwing, ons nie bykom nie.
Ek het gaan naslaan wat geregtigheid beteken. Die volgende word gebruik om dit te omskrywe: goedheid, deugsaamheid, opregtheid, ordentlikheid, integriteit, waardigheid, eerlikheid, moraliteit, hoë-gees, geregtigheid, eerlikheid, eer, eerbaar, sondeloosheid, heiligheid, reinheid, adel, vroomheid en so aan.
Sjoe, dis nou ’n mondvol. Amper too high to come by, nè! Maar dit is presies waarna ons moet strewe, want as ons so leef, kan die duiwel met sy pyltjies maar loop vlieg – daar sal geen kans wees vir sy pyle om ons raak te skiet nie.
Mense moet weet dat ons nie omkoopbaar is nie en dat ons vir die waarheid en geregtigheid staan. Ons behandel almal met waarde en oor ons integriteit kan daar nooit ’n vraagteken hang nie. Weet jy, ons manier van doen moet die benchmark wees. Die manier waarop ons ander mense hanteer moet ’n voorbeeld vir ander wees. Hulle moet daarna wil strewe!
As ons nie van hierdie plek in ons lewe vertrek nie, gaan ons die heeltyd moet keer vir ons wickets. Ons gaan keer op keer by die verkeerde plek opdaag en ons gaan groot pak vat. Soos my vriend wat die kontrakte onder die tafel deur gewerk het. Jy kan mos nie vir God vra om jou besigheid te seën as jy oneerlik is nie. Jy haal jou borsstuk wat jou hart beskerm af. Nou is jou belangrikste orgaan oop en bloot vir jou vyand om uit te ruk.
In alles wat ons doen, moet ons eerlik wees, want dan kan ons alles wat ons doen en wat ons beplan na God toe bring. Hoor wat sê Spreuke hieroor: 3:6-7Vertel die Here alles waaroor jy dink, alles wat jy wil doen. Dan sal jy sien hoe Hy jou help. So ’n lewenshouding sal jou baie gelukkig maak. 8Dit sal selfs vir jou liggaam wonders doen. Jy sal gesond voel en vol krag wees.
Wanneer ons geregtigheid ons motto maak, sal ons oorloop van geluk. Ja, ons sal baie krag hê en alles langs die pad kan geniet. Begeer jy nie ook so ’n lewe nie?
Om oor na te dink
Kry jy swaar van die pyle wat so oor en oor na jou aangevlieg kom?
Is jy moeg gesukkel van val en opstaan, val en opstaan?
Hoe lyk ’n lewe wat gekenmerk word deur geregtigheid?
Gebed
Ja, Here, ek wil ook so leef. Wys my waar ek in die hek duik met geregtigheid en help my om so te leef. Amen