God se Woord in vandag se woorde

‘n Breakdown voor die breakthrough


Soms is eerlike konfrontasie nodig. En tog stap baie van ons wye draaie daar om, want ons is bang vir die pyn. Ons is bang dit maak ander boos. Ons is bang dat ons hulle dalk sal verloor.

Paulus was bang dat hy die gemeente van Korinte verloor het na die skryf van sy eerste brief. Hy moes hulle aanspreek. Daar was dinge wat hulle verkeerd gedoen het en al het hy hulle ’n paar keer vantevore vermaan, het hulle met hulle ou manier van doen aangegaan. Die Korintiërs kon op twee maniere reageer. Hulle kon hom afgemaak het as ’n mal man wat niks weet van die lewe in Korinte nie of hulle kon hulle fout agtergekom het, berou getoon het en hulle lewenswandel dienooreenkomstig aangepas het. Gelukkig het hulle nie ge-strip en hulle rug op hom gedraai nie, maar eerder besef dat hulle op die verkeerde pad was, ware berou getoon en hulle manier van lewe verander.

Paulus vertel: 8Ek weet dat ek julle baie omgekrap het in my vorige brief. Vroeër was ek baie spyt daaroor, nou nie meer nie. Dit het op die ou end goed uitgewerk. My brief het julle wel ’n kort rukkie ontstel, maar op die regte manier. Wat ek bedoel, is dat daardie brief julle teruggebring het na God toe. 9Julle het met al julle hartseer reguit na Hom toe gegaan.

Enige huwelik, enige verhouding moet een of ander tyd deur vuur gesuiwer word. Ons raak so maklik gewoond aan ons manier van leef dat ons glo dit is die enigste korrekte manier van doen. As ons dan deur die ander een in die verhouding gekonfronteer word, klim ons dadelik op ons perdjie en begin vir ’n vale verdedig. Dit is hoe ons inmekaar gesit is. Soms word daar ’n redelik groot stofwolk opgeskop soos ons ons manier van doen probeer verdedig.

Dis wat die Korinte gedoen het. Hulle kon nie verstaan van waar gehaas Paulus hom nie. Hulle lewe al hulle hele lewe so. Dit is al wat hulle ken. Hulle oupas en oumas het dit so gedoen. Hulle ouers het dit so gedoen. Hulle vriende doen dit so. ’n Klomp emosies kom los en dis sulke tyd wat almal terugdraai na default toe. Eintlik maak dit hulle seer. Hoe kan Paulus dit doen? Hoe kan hy hulle so uitskel! Hy maak hulle seer. Hulle het pyn. Hulle wil huil oor die slae wat hy uitdeel.

Maar in hulle pyn en hartseer doen die Korintiërs die regte ding. Hulle draai na God. En hier waar hulle in opregtheid voor God hartseer is, rou is, huil en ween, breek die lig deur. Op ’n manier sien hulle hulself in God se spieël en hulle sien die vuilheid raak. Hulle sien God se prentjie van hulle en hulle besef dat hulle sal moet verander om daarin te pas.

Ek is nie ’n ou vir konfrontasie nie. Ek is eintlik meer van ’n lover as ’n fighter. Maar soms moet ek ter wille van die verhouding, ter wille van die ander persoon, verkeerde dinge uitwys. Alhoewel ek weet dit kan die ander een dalk seermaak, weet ek ook dat ’n mens in die seer na God gryp en in die berou word nuwe insig en wysheid gebore. Kan ek dit weer sê? In die seer gryp mens na God en in berou word nuwe insig en wysheid gebore.

’n Vriend van my sê altyd: “You need a breakdown to get a breakthrough.”

Ons moet besef dat daar dinge is wat ons nie reg doen nie. Wanneer ons deur ander daarop gewys word, moet ons nie ons speelgoed uit die kot gooi nie. Nee, tree wys op. Neem ’n vergrootglas en haal die verkeerde dinge uit. Huil as dit moet en gaan soek jou troos by God. Jy sal verbaas staan oor wat God alles vir jou sal doen.

2 Korintiërs 7:8-11

Om oor na te dink

Oor wat is julle al gekonfronteer?

Het dit jou hartseer gemaak?

Is jy na God vir troos?

 

Gebed

Here, ek besef dat ek die meeste van die kere nie reg opgetree het as ek op verkeerdhede in my lewe gewys is nie. Ek besef dat ek te veel wil verdedig. Ek wil meer met wysheid optree. Help my om my verkeerde dade raak te sien. Help my om ware berou te toon. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek