‘n Brief van my
Liewe Dingetjie
Met die dat ek nou so besig was die afgelope tyd, het ek nie daarby uitgekom om vir jou te skryf nie. Die kinders moet elke dag rondgery word vir sport, daarna is dit ekstra klasse en saans is dit net huiswerk doen. Dit voel vir my ek is weer terug in die skool. Die keer net in drie klasse gelyk!
Ons verlang baie na julle. Die hele gemeenskap mis julle verskriklik. Toe julle hier weg is, was daar ’n gat in die gemeenskap. Maar ek weet nie of dit julle huis is of wat nie, maar die mense wat in daardie huis ingetrek het, is net so ongelooflik soos julle was. Hulle was nog nie eens ingewoel in hulle huis nie, toe kon die gemeenskap al voel hier kom ’n ding. Die man en vrou en drie kinders is so vriendelik en vrolik, ’n mens kan die liefde uit hulle sien straal. Wanneer ek in die vrou vasloop in die mall, kan jy sien sy stel regtig belang oor hoe dit gaan. Een dag kom sy agter dat ek ’n bietjie hoes. Een van haar kinders was kort daarna by die voordeur met ’n spesiale doepa wat ek drie keer per dag moes drink. Kan jy dit glo?
By die kerk is daar omtrent nie ’n projek waarby hulle nie betrokke is nie. Maar asof dit nie genoeg is nie, het hulle hele gesin ’n sopkombuis Saterdae by arm mense begin! En so kan ek aangaan oor die verskil wat die mense hier in ons dorp doen. Ek hoop net nie hulle gaan gou weer trek nie.
Ek moet nou eers weer ’n kind gaan haal en aanry na die volgende sport. Ek hoop dit gaan goed daar in Australië. Wanneer kom kuier julle?
Liefde
Ek
Jou lewe is soos ’n brief wat ander mense skryf. 3Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra. Julle is soos ’n brief wat in my hart neergeskryf is en wat ek elke dag lees. Natuurlik lees al die ander mense wat elke dag met julle te doen het, julle ook. Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is. Elke daad wat ek doen word neergeskryf in die brief van my lewe. Elke optrede wat mense kan waarneem, is ’n storie uit my lewensbrief.
Mense besef nie, maar elke keer as jy iets doen, gee dit die mense ’n kykie in jou hart. As te ware stoot jy jou hart se deur so op ’n skrefie oop vir die mense om te sien hoe dit daar lyk en ek moet bieg, ek het al baie mense se harte so deur hulle optrede gesien en die prentjie was nie baie mooi nie.
Mense lees ons soos ’n boek. Mense kan presies sien waarin ons glo en waar ons hart lê, al het ons nog nie eens ons mond oopgemaak nie. Inteendeel, al het ons ons mond oopgemaak en gepraat dat ander mense se ore suis, het dit niks te maak met die brief wat mense van ons lees nie. Nee, slegs ons dade skryf die brief.
Die vraag is of mense van Jesus in ons briewe lees. Nee, nie van die teologie en preke en stories nie, maar eerder van die dade soos Jesus dit hier op aarde kom doen het. Vertel dit die stories van Jesus wat vir honger mense kos gee en vir mense wat dors na die Woord, les met lewende water?
Ek weet die meeste van ons sukkel om die briewe wat mense van Jesus deur ons dade lees, mooi op die oog te laat val. Ons pluk gereeld die toets. Maar dalk het dit tyd geword dat ons erns hiermee maak en vir God vra om ons te help om so te leef dat mense graag Jesus se briewe in ons dade wil lees.
Om oor na te dink
Hoe lyk die briewe wat jy vir die wêreld wys?
Wil mense dit graag lees?
Sien hulle vir Jesus daarin raak?
Gebed
Vader, eintlik laat sak ek my kop in skaamte, want ek weet die briewe lyk nie almal lekker nie. Ek wil regtig so graag ander mense help en ’n verskil maak. Ja, ek wil U hande en voete wees, maar struikel tog so gereeld. Maar ek wil en gaan nie ophou probeer nie. Dit sal goed wees as U met U Gees my sal help. Amen