God se Woord in vandag se woorde

’n Dankie-sê-lewe vir God


My foon pieng van vroeg af. Dis die spin-klas wat een van die instrukteurs gelukwens. Hy is ook verantwoordelik vir die verwerking van die produksies wat elke dag vars op die toep geplaas word. Ek weet hoeveel werk daarin gaan, daarom kom die lofliedere wat hom toegesing word, een vir een hom toe.

Dis lekker as iemand jou bedank vir jou onbaatsugtige dade. Dis lekker as ’n mens erkenning kry as jy iets vir ander gedoen het, al het jy dit nie vir die erkenning gedoen nie.

Net jammer dat ons mense so maklik gemaklik word en nie ander die eer gee vir wat hulle doen nie. Ek weet nie of ons lui is of net vergeet nie, maar ons is skaars met die komplimente uitdeel. Ek weet, my komplimente bly maar redelik baie gereserveerd.

Ongelukkig strek hierdie tekort nie net tot ons medemense nie, maar ook tot ons God. Ons God wat die asem in ons blaas. Ons God wat ons seën met genade. Ons God wat net nie ophou om Sy liefde oor ons uit te stort nie. Hy wat die begin en die einde van alles is. Selfs teenoor Hom is ons gereserveerd met ons komplimente en dankie sê.

Dis verkeerd. Eintlik moet ons oorloop van dankie en moet ons monde en ons lywe elke liewe oomblik getuig van ons dank aan Hom. Ons moet so om ons kyk en net weer alles raaksien wat Hy gemaak het.

As ons Sy wonderskeppingswerke raaksien, wanneer ons besef hoe groot Hy is, wanneer ons so na ons lywe kyk en die wonder in elke sel raaksien, kan ’n mens mos nie anders as om uit te bars in aanbidding en lofprysing en dankie sê die hele tyd nie.

15Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort.

Op ’n manier moet ons stap deur die lewe, ons optrede, die manier waarop ons met ander mense saamleef en praat, God prys. Die manier waarop ons deur die lewe leef, moet ’n storie vertel van dankbaarheid en bewondering vir ons God. Hy verdien dit oor en oor.

Die Engelse woord adoration spring in my kop op. Ek moet eers die betekenis gaan google. Binne die een woord is al die volgende: liefde, toewyding, omgee, warmte, toegeneentheid, bewonder, aanbidding, verheerlik, prys, verhef, vergroot en nog vele meer.

Al hierdie woorde moet ’n realiteit in ons lewens word as deel van ons lofprysing aan ons geliefde Vader God. Hierdie woorde moet uit ons monde uitvloei, maar ook sigbaar word in ons doen en late hier op aarde.

Mag die wêreld elke dag sien watter impak ons God in ons lewe het. Mag dit hulle aansteek en mag hulle ook ’n begeerte hê om die lewende God in te nooi en ook so vir Hom in die wêreld te lewe.

Teks
Hebreërs 13:9-16

Om oor na te dink
Hoor mense jou dankbaarheid vir God?
Sien mense jou dankbaarheid vir God?
Hoe moet jy anders lewe?

Gebed
Jesus en God, so baie dankie vir alles wat U vir my doen. Sonder U is ek niks nie. U gee my lewe. U gee my asem en krag om elke dag deur die lewe te beur. U is die Skepper God, wat alles, maar alles op die aarde moontlik maak. Aan U kom al die eer toe, nou en tot in alle ewigheid. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek