’n Donker prentjie
Paulus gee ons ’n kykie in hoe die wêreld gaan lyk voor Jesus se koms. Die prentjie wat hy skilder is nie baie mooi nie. Eintlik is ek so effe bang daarvoor:
Mense sonder God lewe verskriklik sleg
1Een ding moet julle nie vergeet nie: dit sal verskriklik gaan net voor die Here weer kom.
2Ek gaan ’n lysie maak van wat mense dan alles sal doen. Elkeen sal net aan homself dink en niks vir ander omgee nie. Geld gaan vir hulle alles in hulle lewe word. Hulle gaan ’n klomp grootmonde wees wat dink hulle is beter as ander mense. Hulle sal nie omgee om ander mense baie seer te maak met hulle beledigings nie en hulle sal hulle nie meer steur aan hulle ouers nie. Hulle sal ondankbaar wees en niks vir God omgee nie. 3-4Liefde sal nie deel uitmaak van hulle woordeskat nie, maar hulle sal alte goed weet hoe om ’n wrok teen ander te dra, of om lelike stories oor ander te versprei. Hulle sal spesialiseer daarin om net te doen wat hulle wil sonder om om te gee wat gaan gebeur, selfs al beteken dit dat hulle op so ’n manier mense buitengewoon seermaak. Moenie vir hulle voorstel om iets goeds te doen nie, want hulle haat dit. Jy sal hulle glad nie kan vertrou nie, want hulle sal jou om die eerste draai in die rug steek. Hulle sal nie omgee om deur hulle optrede ander mense in gevaar te stel nie en boonop sal hulle dink dat hulle baie beter is as ander mense. Hulle sal die poele van plesier kies eerder as vir God.
5Van buite af sal dit lyk of hulle kerkmense is, maar aan hulle binnekant sal hulle dolleeg wees, sonder God en sy krag. Bly weg van hierdie tipe mense af.
Ken hierdie sondaars se strategie
6Party van hulle gaan bly as gaste in die huis van gelowiges. Hulle bewerk dit dan so dat ’n vrou wat byvoorbeeld maklik iets glo, aan hulle lippe begin hang. 7Omdat so ’n vrou nie ’n sterk persoonlikheid het nie, pla die dinge wat sy in die verlede gedoen het haar en buitendien begeer sy allerhande lelike dinge. Hierdie vroue stel altyd vreeslik belang om iets nuuts te hoor, maar hulle kom nooit by die waarheid uit nie en weet ook nie wat waar is en wat nie waar is nie. 8Net soos Jannes en Jambres, die towenaars van die farao, Moses se teëstanders was, so is hierdie mense die waarheid se teëstanders. Hulle is deurmekaar en heeltemal van die spoor af, veral as dit oor die dinge van die geloof gaan. 9Hierdie mense sal nie baie ver kom nie. Mense sal deur hulle sien soos hulle destyds deur Jannes en Jambres gesien het. Hulle sal sien dat hierdie mense nie weet waarvan hulle praat nie.
Hierop kan mens nie eintlik iets sê nie, behalwe dat ons seker moet maak dat ons nie hieraan meedoen nie. Inteendeel, ons moet dit eintlik teenwerk. Ons moet dit teenwerk met liefde wat uit ons straal. Ons moet dankbaar wees vir alles wat ons uit God se hand ontvang. Mense moet op ons kan vertrou en nooit dink dat ons beter is as ander nie.
Mag God altyd in ons wees en mag ons van Sy krag wat in ons is met ander deel. Mag God met Sy Gees ons help.
Teks
2 Tim 3:1-9
Om oor na te dink
Watter van die donkere prentjie is ook in jou?
Hoe kan jy dit verander?
Gebed
Vader, ek is eerlik as ek sê dat die prentjie nie mooi is nie. Dit maak my eintlik bang. Ek wil nie hiervan deel wees nie. Wys my met U Gees waar ek anders moet lewe. Amen.