’n Een paragraaf CV
Ons beplan om Vrydag, 10 April ook ‘n aanlyn-erediens uit te saai vanaf 9h00. Skakel gerus in by https://kruispad.online.church/ en word so deel van ‘n geloofsgemeenskap op ‘n nuwe manier.
Net so ter inligting: Kruispad se visie is God se Woord in vandag se woorde. God se kinders moet gehelp word om Sy Woord by die kruispaaie van die lewe te gebruik. Ons behandel nie temas nie, maar stap vers vir vers deur die Bybel.
Soms, wanneer Paulus reguit is en ’n graaf ’n graaf noem, moet ons ook daardeur, al stel dit ons ’n bietjie bloot, of slaan dit op ’n blou kol. As ons verse sou uitlaat, is dit asof ons blaaie uit die Bybel skeur en sê daai is nou nie eintlik op my van toepassing nie.
Kom ons gordel vas en luister en leer en stap agter oom Paulus aan. Mag ons stap deur die boek van Titus ’n lekker reis wees en mag ons aan die ander kant anders uitkom, net omdat God ons deur sy Woord aangeraak het.
In ons studentedae het ons opleiding gekry oor hoe om ’n CV saam te stel. Ja, saam te stel, want dit was sommer ’n dik affêre. Dit was ’n brief van die predikant en die skoolhoof, met al die leiersposisies en sportprestasies in hoofletters aangedui. Die bold-funksie het toe nog nie gewerk nie, want ons het net ’n tikmasjien tot ons beskikking gehad!
Natuurlik moes al die akademiese prestasies ook daar gelys word. Ek moet bieg dat ek meeste van die kere net die vakke wat ek deurgekom het daar geskryf het en nie die punte nie … In ons dae was ’n CV ’n volledige opsomming van jou doen en late.
Vandag het die mense eenvoudig net nie meer die tyd om deur sulke lywige dokumentasie te werk nie. Wat het jou sportprestasies en klaskapteinstatus nou in ieder geval met jou werk as sekretaresse of rekenmeester te doen?
Daar kom ook eenvoudig net te veel aansoeke deur. Ek onthou nog toe ons by die fabriek ’n advertensie op Gumtree geplaas het vir ’n boekhouer, kom daar binne ’n paar ure oor die 100 CV’s ingerol.
Dit is deesdae standaard dat mense vra vir slegs ’n een bladsy-CV. Jip, jy moet jou sê sê op net een bladsy en daar volgens sal jy genooi word vir ’n onderhoud of nie.
Ek wonder hoe sal my bladsy lyk?
Maar kom ons vat dit verder. As jy in een paragraaf jouself moet opsom, wat sal daar staan?
Wel, kom ek probeer: Ek dien vir God en ek glo in Jesus. God het my geroep om sy kinders te help om in Hom te glo. Ek moet hulle hand neem en deur middel van die Kruispad-aanlynbediening hulle help om die waarheid in God se Woord te ontdek. Dié waarheid dop ’n mens om en laat ’n mens op God se pad stap.
Uit hierdie vier sinne kom jy presies agter in wie ek glo en wat my doel op aarde is. Alhoewel die woorde tot ’n baie groot mate vir my beskryf, het ek so ‘n bietjie plagiaat gepleeg. Dit is eintlik Paulus se CV reg aan die begin van Titus. Kyk wat skryf hy: 1Ek is ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus. God het my aangestel om vir almal wat Hy uitgekies het om sy kinders te wees te vertel hoe om te glo. Ek moet die regte kennis oor die waarheid met hulle deel. Hierdie waarheid verander elkeen wat dit glo in ’n dienaar van God.
Eintlik moet dit ons elkeen se een paragraaf-CV wees. Ja! Dit is waarna ons moet strewe. Almal moet kan sien dat ons in God glo en weet dat ons ’n passie het om ander op God se pad te help.
Kom ons probeer dit. Skryf jy ook, soos ek, agter Paulus se een paragraaf-CV aan en gaan leef dit.
Teks
Tit 1:1-4
Om oor na te dink
Hoe lyk jou CV?
Waaraan moet jy werk?
Hoe moet jy anders daar buite gaan lewe?
Gebed
Vader, ek weet ek moet nog baie veranderinge aanbring in my manier van lewe. Ja, ek glo in U, maar soms lei ek my mede-boeties en -sussies nie op die regte pad nie. Tog wil ek ook soos Paulus leef. Help my, Heilige Gees, om my manier van stap deur die lewe so te verander dat ander agter my kan en wil aanstap. Amen.